ʼn Dawerende applous van welkom aan elke eerstejaarstudent vanuit die NWU Potch Kunste kantoor op die NWU Potchefstroomkampus. Wees verseker, of jy nou self ʼn kunstenaar, akteur, sanger, danser of ondersteuner is, daar IS vir jou ʼn plek in die kunste op die Potch kampus.
NWU Potch Kunste; geleë in die Heimatgebou F9 (word tans gerestoureer tot Mei 2018) funksioneer as ondersteuningsdepartement en ʼn belangrike deel van studenteaktiwiteite op die Potchefstroomkampus. Die departement bestaan al vir 37 jaar en heelwat bekende persone was in hierdie tyd deel van kunste op kampus, insluitend Karen Meiring, Johan van Rensburg, Katlego Maboe, Eugene Coetzer, Christian Diedericks, Bouwer Bosch en Piet Matipa.
Elke jaar word verskeie produksies aangebied; waarvan die King’s Singers (Suid-Afrika toer), FAME – The Musical, NWU Pukki Talentfees en verskeie produksies by Aardklop 2017, deel was.
Deel van NWU Potch Kunste is die NWU Galery en Artéma Instituut vir Kunstebestuur en Ontwikkeling.
In 2017 word die galery uitgenooi na die Joburg Artfair en verskyn die galery se uitstallings in verskeie publikasies. Artéma bied elke jaar ʼn verskeidenheid kortkursusse in die bestuur, bemarking en finansiering van kunste aan. Vir klankopnames kan jy die opname ateljee in die Heimatgebou besoek.
Hoogtepunte om na uit te sien in 2018:
- Massa-oudisies vir kunsteverenigings soos die NWU-Puk Koor, NWU-Puk Simfonie-orkes, Serenaders, Disfunctional Beat, Thalia Toneelgeselskap, Divaco en Gospella.
- World Choir Games, waar die NWU-PUK Koor en Boulevard Harmoniste gaan deelneem.
- Die 35ste NWU Pukki Talentfees.
- Verskeie visuele kunsuitstallings.
- Kortkursus in Teater Tegnologie, aangebied deur die Sanlam-Ouditorium – enige student met ʼn liefde vir teater is welkom om dit by te woon.
Kaartjies vir vertonings in en om kampus; soos byvoorbeeld Eerstejaarskonsert en Enkelsêr, is beskikbaar via TIXSA (verkoopspunte: Sanlam-Ouditorium F14, Protea Boekwinkel, AJR MooiRivier Mall en www.artema.co.za/buy-tickets). Kontak ons via Facebook (NWU Puk Kunste/Arts), Instagram (puk_kunste_arts), e-pos (puk-kunste@nwu.ac.za) of via telefoon (018 299 2844).
NWU Potch Kunste, kom wees deel van kunste op kampus.