Menseregtekomitee (MRK)

Enige persoon wat ’n beweerde aantasting of bedreiging van fundamentele regte ervaar, mag ’n klagte by die MRK indien. Die MRK funksioneer onafhanklik en onpartydig en neem te goeder trou en sonder vrees, begunstiging, partydigheid of vooroordeel aan sy aktiwiteite deel.

Die MRK is ’n vaste komitee wat gestig is deur die Menseregtebeleid, wat op 22 September 2006  deur die Raad van die Noordwes-Universiteit (NWU) goedgekeur is.

1. Verantwoordelikhede

Ter uitvoering van die Menseregtebeleid is die verantwoordelikhede van die MRK om:

  1. ’n kultuur van menseregte, nakoming, respek en beskerming daarvan te bevorder;
  2. ’n bewustheid van menseregte onder die Universiteitsgemeenskap en sy eksterne omgewing deur (nieakademiese) opvoedkundige programme te ontwikkel;
  3. die nakoming van menseregte in die Universiteitsgemeenskap te moniteer en te evalueer;
  4. aanbevelings te maak aan die Raad oor die bevordering van menseregte binne die raamwerk van die reg en die Grondwet; en
  5. enige beweerde skending van menseregte binne die Universiteitsgemeenskap te ondersoek en enige persoon te help wat negatief daardeur geraak word sodat regstelling verkry kan word.

Die verantwoordelikhede word in ooreenstemming met die Prosedurele Handleiding: Menseregtekomitee uitgevoer.

2. Gesag

Die MRK is aanspreeklik teenoor die Raad, wat vir die instelling en monitering van die implementering van die Menseregtebeleid verantwoordelik is. Die MRK ondersoek, stel bevindings saam, gee advies en doen verslag oor beweerde menseregteklagtes, en die Prosedurele Handleiding: Menseregtekomitee maak voorsiening vir die aanstelling van ’n MRK-ondersoekpaneel, asook ’n MRK-hersieningspaneel.

Die NWU erken die fundamentele regte en waardes wat in die Handves van Regte in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 vervat is. Hierdie fundamentele waardes en regte moet in die Universiteitsgemeenskap gerespekteer en gehandhaaf word en moet as integrale deel van al die Universiteit se praktyke en beleide toegepas word.

3. Lidmaatskap

 

3.1 Samestelling

Die Raad keur die samestelling van die MRK op aanbeveling van die Uitvoerende Direkteur: Mensekapitaal goed. Lede sal verteenwoordigend van die Universiteitsgemeenskap en ten opsigte van ras, geslag en gestremdheid sensitief wees.

Samevattend is die samestelling van die komitee soos volg:

Menseregtekomitee (MRK) van die Noordwes-Universiteit

 

Voorsitter

Termyn

(1)

Onafhanklike voorsitter – aanstelling deur die Raad goedgekeur

2 jaar

 

Vaste lede

 

(2)

Direkteur: Werknemerverhoudinge en Institusionele Verteenwoordigende Studenteraadsake (IVSR-sake)

-

(3)

Direkteur: Mensekapitaalbedrywighede

-

(4)

Taalombudsman

-

(5)

Roterende institusionele Studentedekaan

1 jaar

(6)

Studenteverteenwoordiger: Gesondheid en Veiligheidsbeampte van die Institusionele Verteenwoordigende StudenteRaad

1 jaar

 

Verteenwoordigende lede

 

(7)

Spesiale kundigheid: diversiteit en gelykheid

2 jaar

(8)

Spesiale kundigheid: arbeidsverhoudinge

2 jaar

(9)

Verteenwoordiger: Mahikeng – Fakulteit Regte

2 jaar

(10)

Verteenwoordiger: Potchefstroom – Fakulteit Regte

2 jaar

(11)

Verteenwoordiger: Vanderbijlpark – Fakulteit Regte

2 jaar

 

3.2      Aanstelling van lede

Die Uitvoerende Direkteur: Mensekapitaal stel verteenwoordigende lede van die MRK aan deur middel van ’n nominasieproses in samewerking met die institusionele en kampusregistrateurs, en met die bystand van die Sekretariaat.

3.3      Aanstelling van voorsitter en waarnemende voorsitter

Die Raad keur die aanstelling van ’n onafhanklike voorsitter van die MRK op aanbeveling van die Uitvoerende Direkteur: Mensekapitaal goed. Om onpartydige besluite en prosesse te verseker, word geen waarnemende voorsitter aangestel nie.

3.4      Gekoöpteerde lede, waarnemers en besoekers

Enige kundige en/of personeellid van die Universiteit kan van tyd tot tyd deur die voorsitter vir ’n bepaalde doel of vergadering as lid van die MRK gekoöpteer word.

3.5      Stemreg van lede

Alle lede het stemreg. Gekoöpteerde lede, waarnemers en besoekers sal nie stemreg hê nie.

3.6      Sekretariaat

Sekretariaatsdienste word deur die Korporatiewe en Inligtingsbestuurdienste verskaf.

4. Verslagdoening

Op aanbeveling van die Raad se Uitvoerende Komitee, keur die Raad (17 September 2010) goed dat die MRK, as onafhanklike struktuur, binne die lyn van die Uitvoerende Direkteur: Mensekapitaal rapporteer.

’n Sesmaandelikse verslag van die MRK word in Junie/Julie en November aan die Raad, die Institusionele Bestuurskomitee en die Institusionele Forum voorgelê.

Benewens die sesmaandelikse verslae en ná oorweging kan die MRK ’n verslag ten opsigte van ’n spesifieke menseregte-oortreding(s) aan die Institusionele Bestuurskomitee (vir kennisname) en die Raad voorlê.