Tuis

Ondersteuningsdepartemente, waarvan die Kwaliteitsbevorderingskantoor deel is, maak ʼn integrale deel uit van die kernbesigheid van die Noordwes-Universiteit, en speel ʼn belangrike rol in die bereiking van beste praktyk in alle areas. Om hierdie dienste/produkte te kan lewer, is dit noodsaaklik dat ʼn ondersteuningsafdeling voortdurend sy prestasie evalueer en dienooreenkomstig verbeter.

In ooreenstemming met die beginsels en waardes van die NWU erken die Kwaliteitsbevorderingskantoor dat die fundamentele verantwoordelikheid vir “kwaliteit” by die betrokke fakulteite, skole, navorsingsentiteite en ondersteuningsdiensdepartemente op al drie kampusse lê. Die relatiewe outonomie van die akademie en alle ondersteuningsdiensafdelings word hoog op prys gestel en gerespekteer in die beplanning, voorsiening, monitering en evaluering van onder meer hul prosesse, aktiwiteite en dienste.