Nuus - “Fantastisk musik” van Jong Sweedse koor

Musiekinstrumente het die unieke kwaliteit dat geen twee ooit dieselfde sal klink nie, want hoewel twee viole dalk langs mekaar sal speel, het elkeen ʼn unieke “stem”. En as dit kom by kore, is dit presies dieselfde.

Gehoorlede van die NWU Skool vir Musiek en Konservatorium het op 27 Februarie die voorreg gehad om deel te wees van die uittrede toer van die wêreldberoemde dirigent en komponis, Bengt Ollën. Potchefstroom was een van die laaste dorpe waar jy die koor van die Stockholm Musikgymnasium onder leiding van die begaafde dirigent sou hoor.

Die koor se Suid-Afrikaanse toer het begin in Gauteng, en Potchefstroom was hul tweede stop voordat hulle verder getoer het na KwaZulu Natal en die Kaap. Die toer was onderneem ter ere van die dirigent, Bengt Ollën, se aftrede as onderwyser aan die Stockholm Musikgymnasium aan die einde van die jaar. Hy is al sedert 1994 dirigent van die koor, en is ook bekend vir sy werk as dirigent en stigter die Sofia vokale ensemble en die Amanda vokale ensemble.

Met die eerste werk het die koor die gehoor verras deur van agter af in te stap en tussen die gehoorlede te sing. Die res van die repertoire het gewissel tussen oorspronklike werke van Bengt Ollën, Sweedse volksliedjies en “gunsteling” koorverwerkings vanuit Europa. Die koor het selfs ʼn stuk Afrika musiek aangedurf deur die unieke Xhosa lied “Indodana” gesing. Hul volwasse klank, in kontras met die jong ouderdom van die koorlede, was deurlopend foutloos wat harmonieë, samesmelting van stempartye en hoë musikale standaarde betref.

“Dis lekker om blootgestel te word aan ’n ander tradisie of kultuur,” sê Kobus Venter, dirigent van ons eie NWU PUK-Koor. “Hulle het ʼn styl uniek aan Europa, en dit bly altyd interessant.”

Hoewel ek nie ʼn woord Sweeds verstaan nie, het die vertolking en sang van die koor uit Stockholm my elke noot laat verstaan, en ek glo die gehoor sou saamstem as ek sê, “Bravo Bengt! Bravo koor!”.

 

Geskryf deur: Rouxné van der Westhuizen

Foto: Voorsien deur Stockholm Musikgymnasium