Kursuskansellasie

Proses met kansellasie van studie

Kennisgewing van kansellasie van studie en/of enkele kursusmodules moet op die amptelike kansellasievorm gedoen word. Dit is by Akademiese Administrasie beskikbaar.

Indien kennisgewing van kansellasie per brief gegee word, moet dit aan die Kantoor van die Registrateur gerig word en per geregistreerde pos afgelewer word, in welke geval die ontvangsdatum as die amptelike datum van kansellasie aangeteken sal word.

Die kansellasie is geldig vanaf die datum van behoorlik indiening van die kansellasievorm, of vanaf die datum van ontvangs van die geregistreerdepos-artikel deur die registrateur.

Gelde betaalbaar by kansellasie van studie

Eerste semester

Indien ’n kampusstudent hulle studie voor 19 Februarie kanselleer, en ’n afkampusstudent voor 12 Maart, is slegs die registrasie- en minimum klasgelde betaalbaar. Indien ’n kampusstudent hulle studie na 19 Februarie kanselleer, en ’n afkampusstudent na 12 Maart, is die klasgelde vir die hele eerste semester betaalbaar.

Tweede semester

Indien ’n student hulle studie vir die tweede semester voor 30 Julie kanselleer, is slegs die eerste semester se klasgelde betaalbaar. As ’n student hulle studie na 30 Julie kanselleer, is die klasgelde vir die hele jaar betaalbaar.

Indien ’n afkampusstudent hulle studie voor 30 Julie kanselleer, en die studiemateriaal is reeds uitgereik, is die gelde vir die studiemateriaal betaalbaar, en so ook R250 per module vir hantering en posgeld.

Indien ’n student hulle studie kanselleer, moet alle beurse en/of lenings ONMIDDELLIK TERUGBETAAL WORD.