Wenke vir jou soektog na werk

 

Jou soektog na werk is ’n proses en begin die oomblik wanneer jy oor die lewe ná die NWU begin nadink en duur voort totdat jy ’n werksaanbod aanvaar het. Begin jou soektog na werk op ’n vaste grondslag deur te verstaan hoe die proses werk, en werk jou pad suksesvol deur elke stap tot by jou uiteindelike doelwit – jou nuwe werk.  Om ’n werk te kry en om die regte werk te kry, is twee heeltemal verskillende dinge. As jy suksesvol wil wees in jou soektog na werk, moet jy daarop fokus om die regte werk te kry. ’n Belangrike sleutel in die bereiking van daardie doel is om die nodige tyd af te staan om jou behoorlik vir jou soektog na werk voor te berei.

Stap 1 – Selfevaluering (Wie is ek en wat het ek om te bied?)

Die eerste stap in jou soektog na werk is selfevaluering. Om jouself behoorlik te bemark, moet jy tyd maak om jouself te ontdek. Hoe beter jy jouself ken, hoe beter sal jy in staat wees om vas te stel waarna jy in ’n werk soek, en wat ’n werkgewer in jou sal soek. Suksesvolle werksoekers sal tyd maak om hulle bepaalde vaardighede, talente, vermoëns, belangstellings, waardes, behoeftes en doelwitte te identifiseer. Neem persoonlik bestek op van jou:

  • Opvoeding: gunstelingvakke, beste vakke en akademiese prestasies. Wat het jy uit jou akademiese, jou betaalde en jou vrywilliger-ervarings geleer?
  • Vermoëns: interpersoonlik, kunstig, kreatief en organisasiegewys. Lys die werk, take of aktiwiteite wat jy die meeste geniet het. Lys die dinge waarvan jy niks gehou het in die werk wat jy gedoen het nie. Wat is jou werkverwante vaardighede, en watter vaardighede is vir jou lekker om te gebruik? Identifiseer jou beste vaardighede. Om te weet wie jy is en wat jy het om te bied, sal jou sukses met jou werksoekery verhoog, aangesien jy duidelik sal kan kommunikeer hoe jou vaardighede, sterk punte, en vermoëns by die posbeskrywing en vereistes pas.
  • Belangstellings en stokperdjies: ontspanningsaktiwiteite en betrokkenheid by die gemeenskap. Wat interesseer jou oor die tipe organisasie wat jy verkies: klein, medium, of groot, aanpasbaar of streng gestruktureerd? Dink na oor werksomstandighede – gee jy om om te reis, is lang ure se werk oukei, hoeveel tyd het jy vir aktiwiteite buite die werk nodig?
  • Doelwitte: wat jy wil bereik, tipe leefstyl en jou ideale toekoms. Kyk na jou doelwitte in die lewe sowel as jou doelwitte by die werk. Watter soort pos soek jy, waar wil jy woon? As jy geen beperkings het nie, wat sal jy graag vyf jaar van nou af wil doen? Wat gaan jou help om daar uit te kom?  Omskryf jou loopbaandoelwitte. As jy nie duidelikheid het oor wat jy wil hê nie, kan jy dalk by ’n werk beland wat jy nie wil hê nie.

 

Jy moet jouself in dié mate ken dat jy ’n voornemende werkgewer in die oë kan kyk en vir hulle kan sê watter professionele en persoonlike vaardighede en eienskappe jy het wat jou kwalifiseer vir die pos waarvoor jy aansoek doen. Kennis oor jouself help jou om meer gefokus na werk te soek en daardie werksgeleenthede uit te soek wat die beste by jou pas. Hierdie stap in die werksoekproses is die basis van jou soektog na werk.

 

Stap 2 – Identifiseer werkgewers

Ná jou selfevaluering behoort jy loopbaanopsies te kan navors en ondersoek wat by jou vaardighede, belangstellings, waardes en persoonlikheid pas.  As jy ’n duidelike idee het van wie jy is, wat jy kan doen, wat jy wil doen, en in watter omgewing jy dit wil doen, sal dit jou in staat stel om jou loopbaandoelwit te ontwikkel. Jy het ’n plan van aksie vir jou werksoekproses nodig. Jy moet werkgewers identifiseer en spesifieke besonderhede van elke werkgewer weet.  Hoe gaan jy ’n lys van potensiële werkgewers opstel en hoe gaan jy hulle kontak? 

Probeer die volgende metodes om inligting in te samel:

  • Aanlyn hulp: besoek webwerwe van die organisasies waarin jy belangstel, aanlyn werwingsagentskappe, loopbaanverwante werwe, werwe wat lyste met werk verskaf, werkgewergidse, résumé-databasisse.
  • Kyk na boeke oor loopbane om te sien watter soort werk beskikbaar is.
  • Lees jaarverslae van verskillende organisasies waarin jy belangstel.
  • Praat met soveel mense as wat jy kan, en vind uit wat hulle doen of wat hulle gedoen het in die werksareas waarin jy belangstel.
  • Besoek alle loopbaanverwante geleenthede: inligtingsessies, werkswinkels en loopbaanuitstallings om te leer van al die tipes poste wat in jou veld beskikbaar is. Indien die maatskappy baie klein is, bel hulle en vra hulle om vir jou bykomende inligting te stuur.
  • Netwerking is ’n belangrike deel van jou loopbaanontwikkeling: bou kontakte op, skep verbintenisse, bou ’n ondersteuningsgroep en maak vriende met mense met soortgelyke loopbaanbelangstellings.  Vrae om vir mense te vra wat in jou belangstellingsveld werk, kan insluit: Waarvan hou jy van werk in hierdie veld, of waarvan hou jy nie? Kan jy ’n “gewone” dag in jou werk beskryf? Het jy enige aanbevelings vir iemand wat in hierdie veld belangstel?
  • Kyk gereeld na die NWU Loopbaansentrum se gebeurekalender – gebruik die Loopbaansentrum se hulpbronne en raadgewers.

 

Dis nie maklik om proaktief na werk te soek nie.  Dit vereis toewyding en baie dissipline.  Diegene wat egter aanhou probeer, sal uiteindelik die vrugte daarvan pluk.  Die sleutel tot ’n suksesvolle loopbaankeuse is dat jy jouself moet ken en moet weet wat jy uit jou loopbaan wil kry, wat in die mark beskikbaar is, en jouself dienooreenkomstig kan bemark.

Stap 3 – Bemark jouself

Die belangrikste element in die verkryging van ’n werk is voorbereiding.  In die huidige mededingende arbeidsmark word jy van meet af aan beoordeel.  Om ’n onderhoud te kry, maak seker dat jou CV en dekbrief die oog vang. Jou curriculum vitae en jou dekbrief is die twee basiese bemarkingsinstrumente in jou soektog na werk.  Dit is dus noodsaaklik om ’n doeltreffende CV en goeie, doelgerigte dekbrief te hê.  Die uiteindelike doelwit van jou bemarkingsinstrumente is om vir ’n onderhoud genooi te word.

  • Jou curriculum vitae: Jou eerste indruk moet in die kol wees. Jy sal nie ’n tweede kans kry om ’n baie goeie eerste indruk te maak nie. Die idee van ’n CV is dat jy vir ’n onderhoud genooi moet word en ’n voet in die stiebeuel te kry. Jou CV moet jou werks- en opvoedkundige hoogtepunte weerspieël, asook belangrike persoonlike inligting, sleutelvaardighede en kwalifikasies. Jou CV is jou eie persoonlike advertensie waarin jy die vaardighede vertoon wat jy het, en wat relevant is vir die tipe werk wat jy soek. Gebruik jou CV as bemarkingsinstrument om jouself aan ’n voornemende werkgewer te verkoop.
  • Jou dekbrief: ’n Goeie dekbrief kan jou CV bo dié van ander op ’n werkgewer se lessenaar laat uitstaan. Maak seker dat joune die oog vang. Die dekbrief is jou geleentheid om jou CV te verpersoonlik – dit dra jou persoonlikheid en jou entoesiasme oor.
  • Jou onderhoud: Die uiteindelike doelwit van jou bemarkingsinstrumente (CV en dekbrief) is om vir ’n onderhoud genooi te word. Dit is maklik om só gerig te wees op ’n onderhoud dat jy nalaat om jou behoorlik vir die onderhoud voor te berei. Ongeag die vaardighede, kwalifikasies en ervaring wat jy het, sal jou persoonlikheid en persoonlike voorkoms steeds tel wanneer jou voornemende werkgewer na jou kyk.

Stap 4 – Doen aansoek vir die werk en neem die besluit

Jy moet as werksoeker bewus wees van die verskillende metodes wat werkgewers en advertensie-agentskappe gebruik om mense aan te stel.

Hoe weet jy van werksvakatures?

  • Advertensies in koerante, vaktydskrifte, nuusbriewe en handelstydskrifte.
  • Werkverskaffingsagentskappe adverteer ook in koerante – kyk in telefoongidse vir die name van werkverskaffingsagentskappe.
  • Internethulpbronne – soek in aanlyn werkbanke en op maatskappye se webwerwe om vakatures te kry.
  • Pos na ’n teikenpersoon – probeer om uit te vind wie in beheer is van die gebied waarin jy belangstel en stuur jou dekbrief en CV aan daardie persoon.
  • Direkte kontak – besoek self die maatskappy. Doen navorsing oor jou opsies en vra vir ’n spesifieke persoon aan wie jy jouself kan voorstel.
  • Professionele verenigings – sluit aan terwyl jy nog ’n student is.  Professionele verenigings het dikwels webwerwe wat hulpbronne en gebeurtenisse insluit.
  • Netwerking – baie vakatures bly in die arbeidsmark verskuil omdat nie alle poste geadverteer word nie.   Daarom bly netwerking die belangrikste werksoekstrategie.
  • Werwing op kampus – jou Loopbaansentrum, werkgeweraanbiedings, loopbaanuitstallings.

Besluitneming

 “Jy het die werk!”  Jy het gehoop jy sou hierdie woorde hoor.  Jy moet steeds besluit of dit die werk is wat jy wil hê.  Jy moet die aanbod evalueer om te sien of dit aan jou verwagtings voldoen.

  • Vergelyk die werk met jou loopbaandoelwitte.
  • Wees bedag op waarskuwingstekens – negatiewe onderhoudvoerders, werknemers met klagtes, werksomgewing.
  • Vergelyk die voordele met jou behoeftes wat jy in die eerste stap van jou werksoekproses geïdentifiseer het. 

Om werk te kry, is harde werk, dit neem tyd en kan frustrerend wees.  Dit is belangrik om so veel as moontlik werkgewers in te lig oor wie jy is, wat jy kan doen, en waarom jy by hulle organisasie wil werk. ’n Mate van afkeuring is ’n normale deel van jou soektog na werk.  Moenie toelaat dat hierdie afkeurings jou ontmoedig nie – leer elke keer en verbeter jou vaardighede vir die volgende aansoek.  Die personeel by die Loopbaansentrum is beskikbaar om jou deur elke stap van jou soektog na werk te help, maar jy is die een wat dinge daar buite moet laat gebeur – niemand kan dit vir jou doen nie.

 

 

Kontak Ons

Mahikengkampus (Studente Sentrum) - 018 3892575

Potchefstroomkampus (Gebou F25) - 018 299 4409

Vanderbijlparkkampus (Gebou 13, SL 333) - 016 910 3040