Nuus - Tydlose musiek by Pukki Klassiek 2018

Pukki Talentfees bied iets vir elke kunstenaar, selfs vir die meer klassieke siel. Vir dié wat meer in hierdie genre belangstel, was Pukki Klassiek op Woensdag 9 Mei ’n ideale geleentheid om by te woon.

Die NWU Skool vir Musiek en Konservatorium het ’n rustiger stemming aan die meer gesofistikeerde kategorie van Pukki Talentfees voorsien. In hierdie kategorie van die kompetisie het studente van die NWU Potchefstroomkampus voortreflike variasies van klassieke musiekstukke opgevoer. Die verskeidenheid was opmerklik: daar was komiese opera, soos Ah, Un Foco Insolito deur Gaetano Donizetti wat deur Makau Itumeleng gesing is; die duo Casta Divas se hartroerende Mira, o Norma uit die komponis Vincenzo Bellini se produksie Norma; en meer moderne operette soos Glitter and be gay van Leonard Bernstein se Candide, uitstekend gesing en prettig vertolk deur Segomotso Shupinyaneng.

Die drie kategorieë vir die aand was duette en trio’s, solo’s en instrumentele musiek. Sibusiso Simelane en Segomotso Shupinyaneng het met die prys vir duette en trio’s weggestap met Parigi, O Cara uit La Traviata deur Giuseppe Verdi. Segomotso Shupinyaneng het die solo-kategorie met Glitter and be gay gewen, en die aansporingsprys vir solo’s is aan Stephen Schalkwyk gegee. Die instrumentele afdeling is deur Ruan Kruyshaar gewen, met sy uitvoering van Frédéric Chopin se pragtige klavierstuk, Etude opus nr. 12. Hierdie drie items was ook tydens die Donderdag- en Vrydagaandvertonings van Pukki Talentfees in die Sanlam-Ouditorium te sien gewees.

Die klassieke kategorie van Pukki Talentfees was ’n goeie tentoonstelling van die diverse talente van die studente op kampus. Dit was ook ’n welkome aand van rustigheid en goeie, tydlose musiek, in die middel van ’n opwindende kompetisieweek.

Beoordelaars – Pukki Klassiek 2018:

  • Marguerite van Wyk
  • Linette van der Merwe
  • Gerhard Benadé

Artikel deur: Rouxné van der Westhuizen

Foto: Annemarie Wichmann