Totiussaal (F6)

Totiussaal (F6)

 

 

  • In die vroeë vyftigerjare was die gebrek aan ontspanningsfasiliteite vir studente een van die vernaamste leemtes in die fisiese beplanning van die PUK. Waar die Totiussaal vandag staan, tussen die Hoofgebou en Heimat-koshuis, was ’n sinkgebou wat eers as laboratorium gedien het. Teen 1950 was dit die SR-kantoor, -argief, -pakkamer en studentesaal waarin 200 persone staande kon inpas, maar dit was heeltemal te klein, want in 1949 het die PUK reeds meer as 700 studente gehad. 
  • Met die beplanning vir die studentesaal, is daar dus besluit dat dit plek moes hê vir 700 studente met ’n verdere 300 sitplekke op ’n galery. 
  • Toe daar in September 1953 met bouwerk begin is, het die studente net £4 300 ingesamel. Dit is ten spyte daarvan dat hulle dié jaar fluks blikkies geskud tydens hulle Vreugdedagvieringe (later JOOL) om geld in te samel vir die bou van die saal. Subsidie van die regering en ’n lening wat deur die studente aangegaan is, kon die geld bymekaar kry. Alabama se wins van hulle toere het ook tot die boufonds bygedra. 
  • Die saal is in op 12 Maart 1954 deur die destydse Rektor, prof JC van Rooy, amptelik geopen. Die 1 000 sitplekke was reeds te min, want in 1953 was daar al reeds meer as ’n duisend studente op die kampus. 
  • Vir jare was die Totiussaal die ‘sitkamer’ van die universiteit met ’n legio konsertaanbiedinge, opvoerings en vele ander funksies.
  • In 1969 skryf Francois Venter, redakteur van Die Wapad, hoe oorvol die saal tydens sing-songs was en dat baie studente onder die bome buite die saal moes staan om daaraan mee te doen. 
  • Teen 1970 het die Totiussaal letterlik uit sy nate gebars. Horst Bütow vertel dat in sy eerste jaar, 1970, hulle die Hof van Hades moes bywoon. Die 800 eerstejaars is in die voorste helfte van die Totiussaal ingedruk (’n ruimte bedoel vir 500). Die seniors het die agterste helfte en die galery gevul. Daarna is die bevel geskreeu: “Sit!” en, sê hy, “as jy nie dadelik gesit het nie, dan het jy nie gesit nie. En dan hoor jy hoe die saal se vensters breek soos die eerstejaars daarteen val.” 
  • Planne vir ’n nuwe studentesentrum is reeds vanaf die vroeg sestigerjare gemaak, maar die nuwe Studentesentrum is eers in 1979 voltooi en in 1980 amptelik ingewy. 
  • Daarna het die Totiussaal onder beheer van die Kultuurraad van die SSR gebly en is deur die Kultuurkantoor, later NWU Kunste, bestuur.  
  • Die Totiussaal is hoofsaaklik vir studente-aktiwiteite en as oefenruimte vir die toergroepe gebruik, ten spyte van verskeie versoeke en betoë deur verskeie departemente om dit te bekom. 
 
 
Hierdie argiteksvoorstelling van hoe die nuwe studentesaal sou lyk, verskyn in Die Vlotjie ’n bylaag tot Die Wapad van 7 Augustus 1953.
“Hiervoor kollekteer elke Puk Saterdag so al wat hy werd is”, lui die byskrif.
“’n Gebou wat vir geen ander studentesaal in die land hoef agteruit te staan nie.
Verskeie pogings is reeds aangewend om die nodige pitte in die hande te kry om hierdie ideaal verwesenlik te laat word en Saterdag se poging moet eenvoudig die knoop deurhaak.
Anders sal dit broekskeur gaan om verdere gelde in die hande te kry.
Op elke PU-Kaner rus dus “’n gewigte taak om alles in die stryd te werp om Vreugdedag ’n skitterende sukses te maak!
Die koste om die studentesaal gebou te kry sal £14 000 kos. Trek vinger uit, Pukke, en kyk wat elkeen kan doen!”
 
 
 

Die Totius van die Totiussaal

Die Totius-gedenksaal, soos die Totiussaal eintlik bekend staan, is vernoem na prof JD du Toit. Hy is beter bekend as die digter, Totius. Sy studentemaats wat in 1896 saam met hom aan die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk studeer het, het hom geken as Japie du Toit. Dit was egter toe hy gedurende die Anglo-Boereoorlog aan die Vrije Universiteit in Amsterdam studeer het, dat hy die bynaam ‘Totius’ gekry het. Die woord is afgelei van die Latynse woord wat “geheel” of “van almal” beteken wat daarmee verband hou dat hy tydens sy studentejare op Burgersdorp bekend gestaan het as “onze hoofdichjter” en “onze dichter". Na die oorlog was hy leraar van die Gereformeerde Kerk, Potchefstroom en het hom beywer vir die verhuising van die Teologiese Skool en Literariese Departement van Burgersdorp na Potchefstroom. In 1911 het hy hoogleraar aan dié skool op Potchefstroom geword en in 1913 Rektor. Daarna het hy die Rektorswoning bewoon, wat vandag as die Totiushuis een van die drie huismuseums van Potchefstroom was. Totius het talle digbundels gepubliseer en is ook bekend as een van die vyf Bybelvertalers wat die eerste keer die Bybel in Afrikaans vertaal het. Hy is op 1 Julie 1953 in Pretoria oorlede, kort voor bouwerk aan die studentesaal ’n aanvang geneem het en dit is na hom vernoem. 
 
Prof JD du Toit (Totius) (1877-1953)