Studentesentrum ("SS")

Studentesentrum ("SS")

Studentsentrum vandag (Klipoog-Kafeteria)

 

  • Die eerste plek waar studente op die huidige kampus kon byeenkom, nadat dit in 1923 hierheen verhuis het, was ’n sinksaal. Dit was een van sowat agt strukture wat die Potchefstroomse Universiteitskollege in 1923 van die militêre owerhede bekom het. Meeste is ingerig vir akademiese doeleindes en een was ’n koshuis vir mans, Ons Huis, wat gestaan het waar die Hoofgebou nou is. 
  • Waar die Totiussaal vandag staan, tussen die Hoofgebou en Heimat-koshuis, was ’n sinkgebou wat eers as laboratorium gedien het. Teen 1950 was dit die SR-kantoor, -argief, -pakkamer en studentesaal waarin 200 persone staande kon inpas, maar dit was heeltemal te klein, want in 1949 het die PUK reeds meer as 700 studente gehad.
  • Die tweede studentesaal was die Totiussaal wat in 1953 gebou is. Dit was teen 1970 ook reeds te klein. Daar is toe al planne gemaak vir die nuwe Studentesentrum en bouwerk het in 1974 begin. 
  • Die Rektor, prof Hennie Bingle, het die visie en droom gehad dat dit die hart van die studentelewe sal vorm en ’n brandpunt op die kampus sal wees. 
 
Foto:  Prof Hennie Bingle 
 
  • Die argitekte, WO Meyer en B Britz, is aangewys om die omvattende planne op te stel en GA du Toit en vennote is as meganiese en elektroniese ingenieurs benoem.
  • Die Sentrum is in die middel van die kampus geplaas en van daar af straal wandelpaaie na die hele kampus. Hoofkomponente is die ouditorium of gehoorsaal, die sportsentrum, studenteraadkantore en kafeteria.
  • Teen 1972 het die beplande boukoste van R2 miljoen verdubbel. Uiteindelik sou dit R5 miljoen kos.

Foto:  Argiteksplan van die Studentesentrum
Dié argiteksplan van die Studentesentrum is op 9 Augustus 1974 in die PU-Kaner gepubliseer. Dit toon (1) die Saal (ouditorium) (2) daktuin (wat later verander is)
(3) kafeteria en sitkamers (4) binnenshuise sportsaal en sportlokale (5) amfiteater (6) binnehof en fonteintjie (laasgenoemde bestaan ook nie meer nie)
(7) studenteraadkantore en (8) een van die wandelpaaie (vandag bekend as Lovers Lane). 

  • Bannie Britz, een van die medewerkende argitekte van die Studentesentrum, het hierdie omskrywing van die argitektoniese oogmerke en styl van die Studentesentrum geskryf. Dit is ingesluit in die program van die ingebruikneming van die Hennie Bingle-Studentesentrum in 1980:
Tien jaar gelede is met die beplanning van die Studentesentrum begin. Dit was die tyd van studente-onrus oral in die wêreld. Die destydse rektor, professor Hennie Bingle, het opdrag gegee dat die kompleks gebou moes word om die studente tuis te laat voel op die kampus. Hy was op soek na ’n gebou met ’n sekere eenvoud en bonkigheid om uitdrukking te gee aan bepaalde eienskappe van die Afrikaner. Die kompleks moes bestaan uit die gehoorsaal, komiteekamers, kantore en raadsaal vir studente en die studenteraad, ’n groot omvattende binnenshuise sportsentrum, kafeteria met sitkamers en ’n groot opelug amfiteater. 
 
Die plasing van die kompleks op die kampus is gedoen deur mnr Wilhelm Meyer, die universiteitsargitek, wat ook vir die projek aangestel is. 
 
Die argitekte het besef dat hierdie gebouekompleks unieke moontlikhede inhou en het besluit om meer te doen as om net die gevraagde fasiliteite op ’n doelmatige manier te verskaf. Die volgende oogmerke is nagestreef:
  1. Die gebou moes ’n opvoedkundige instrument wees. Daar vind tans omvattende verstedeliking plaas. Stedelinge gebruik hulle tyd anders as landelike mense. Die gebou moes stimuleer tot skeppende en aktiewe gebruik van tyd, deur mense bewus te maak van die wye verskeidenheid aktiwiteite wat die stad in ons tyd bied. 
  2. Dit moes ’n gebou wees waar jongmense tuis sou voel. Kleurgebruik sou ’n belangrike middel wees om jeugdige lewenslus te stimuleer.
  3. ’n Eerste plaaslike prototipe van ’n soort kompleks wat al meer – veral in Europa – voorkom, is beoog. Die funksie van ’n algemene bymekaarkomplek wat byvoorbeeld deur die Griekse Agora of die Middeleeuse stadsplein vervul is, ontbreek in die moderne stad. Die moderne vervoer- en kommunikasiemiddels het die stad, en daarmee die gemeenskap, uitmekaar getrek. Veeldoelige gemeenskapsentrums wat al meer gebou word, dien as fokuspunte in talle stede. Daar is gesoek na ’n punt van ekwilibrium in die universiteit, wat terselfdertyd mense van binne en buite sou binnetrek, soos ’n magneet, om sodoende interaksie te bewerkstellig.
Die plasing van die geboue op die huidige swaartepunt van die kampus, oor die hoofbewegingsroetes van die studente was gelukkig. Dit het gelei tot ’n eenvoudige konsep van ’n binneplein, gekoppel aan die amfiteater. Met sy fontein, sitplekke en bome moes dit ontmoetings- en skuurplek word. Die interne sirkulasie is gestruktureer rondom ’n interne ringstraat op eersteverdiepingvlak. Die kort periode wat dit neem om hierdie straat om te stap moes jou blootstel aan al die veelvuldige aktiwiteite en hopelik aanmoedig om ’n deelnemer te word. Die straat word dus ’n belangrike kommunikasiemiddel. 
 
Die argitektoniese taal is eenvoudig. Daar is bewustelik gesoek na ’n ‘landskap’ waarin mense meer bewus sou wees van die ruimtes, plekke, en hulle aktiwiteite, sowel as van die drama van interaksie van omsluitende elemente soos fassades. Die vloer van die kompleks, met sy op- en afbewegings, trappe en oplope moes die belangrikste fassade van die gebou wees en is beklemtoon met allerlei patrone. Alle moontlike bome is behou en aangevul om by te dra tot ’n versmelting van die grense tussen argitektuur en landskap. Daar is gestrewe om ’n plek te skep waar stedelike omgewing, kuns, landskap en argitektuur onselfbewus saamwerk eerder as om ’n interessante vreemde objek in die universiteitsweefsel te plant.
Die tyd sal leer of hierdie eksperiment ’n sinvolle dimensie aan die universiteitslewe sal toevoeg.
 
  • Die interne ringstraat waarvan Britz praat het beteken dat daar ’n roete bestaan op die vlak van die eerste vloer bestaan het, wat beteken dat ’n mens van die kafeteria, deur die sportsentrum en studenteraadskantore na die foyer van die Ouditorium kon loop en vandaar weer na die kafeteria. Die sirkelroete moes later afgesper word om veiligheidsredes.  Oor jare het die Studentesentrum ook die fontein in die binnehof verloor.

Foto:  Studentesentrum in aanbou
Wapad publiseer op 11 Februarie 1977 hierdie foto van die Studentesentrum in aanbou.
Voor is die kafeteria- en sitkamerblok en regs bo is ’n gedeelte van die Amfiteater reeds uitkenbaar. ​

Foto: Studentesentrum in aanbou - 1978
 

  • Die Studentesentrum (wat gou die noemnaam “SS” onder die studente gekry het) het op 24 Julie 1979 sy deure geopen. Vir die studente van 1979 was dit ’n wonderwêreld. By die ou kafeteria, langs die Totiussaal, kon mens hoofsaaklik pasteie, lekkers, tee, koffie en koeldrank gekoop het, terwyl die nuwe kafeteria ’n hele rits lekkernye, kitskos en etes te koop gehad het. 
  • Net noord van die oorspronklike kafeteria het die eerste Drakenstein Restaurant sy deure geopen. Dit het beteken dat die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys in die eerste keer van sy bestaan van 110 jaar vir ’n dranklisensie moes aansoek doen. Die lisensie kon slegs uitgereik word aan ’n persoon, nie ’n instansie nie en dit het beteken dat dit in die naam van die Rektor, prof Tjaart van der Walt, ’n voormalige predikant moes wees! 
  • Die ruim eetplek en die groot sitkamers het ’n wonderlike aantrekkingskrag gehad. “Ons het sommer net daar gaan sit, om dit te geniet,” vertel ’n student van daardie tyd. Dié kuierplek het soveel aftrek gekry dat die meubels gou begin skade ly het. Afgesien van gewone slytasie, is die stoele ook weggedra. Teen 1988 is daar oorweeg om die stoele te verwyder. In 1989 is die sitkamers omskep in die Alumnisaal.

Foto: 
Die groot- en klein sitkamers was ’n heerlike kuierplek in die nuwe Studentesentrum (Besembos 1980)
 

  • Daar was aanvanklik gemeen dat die Studentesentrum teen die tweede semester van 1978 gereed sou wees om in gebruik geneem te word. Planne daarvoor is reeds vanaf September 1977 beraam. Dit was egter eers teen die tweede semester van 1979 voltooi.
  • Die inwerkingstelling van die Studentesentrum het op die skouers gerus van mnr Hans van Zyl. Hy is in November 1978 as direkteur aangestel en dié legendariese rasieleier van die vroeë sestigerjare moes sorg dat bedryf van die kafeteria, die binnemuurse sportsentrum én die Ouditorium seepglad verloop. 

 

Foto:  
Hans van Zyl is in 1979 aangestel as die direkteur van die Studentesentrum.
By hom is mev H du Plessis, sekretaresse van die Studentesentrum . 

  • Een van sy take was om elke aand toe te sien dat die Sentrum behoorlik gesluit is. In die Sentrum is 38 buitedeure alleen, verskeie lugversorging- en verkoelingsapparaat, ’n magdom ligskakelaars en twee TV-stelle. Met sluitingstyd moes alles gesluit, afgeskakel en nagegaan word. Hierdie lopie het ’n halfuur tot ’n driekwartuur geduur, wanneer terselfdertyd gekontroleer moes word dat niemand hulle meer in die gebou bevind nie. 
  • In 2000 ondergaan die Studentesentrum dié grootste verandering sedert dit 20 jaar vantevore in gebruik geneem is, om dit te vorm dat dit lyk soos dit vir vandag se studente bekend is. 
  • Die konstruksie van die eerste fase het in Junie begin en sou in Januarie 2001 voltooi wees. Die nuwe gedeelte van die sentrum het nou uit drie vlakke bestaan: ’n grondvlak, tussenvlak en boonste vlak. Die drie vlakke maak voorsiening vir sitplek vir ongeveer 500 studente.
  • Die bestaande selfbedieningsarea is meer as drie keer vergroot met vyf betaalpunte. Die tweede fase het die opgradering van die Alumnisaal ingesluit. Dit het in 2001 begin. Die ontwerp is gedoen deur argitek Gerrit Jordaan van Holm Jordaan & Vennote van Pretoria..  
Foto: Besembos 1980
Saam met die Rektor van die PU vir CHO, prof Tjaart van der Walt (links) op dié foto, wat geneem is met die ingebruikneming van die Studentesentrum,
is prof Hennie Bingle, vorige Rektor,na wie die Sentrum vernoem is, mnr Wilhelm Meyer, universiteitsargitek, mnr Bannie Britz, argitek wat die Sentrum ontwerp het
en mnr Hans van Zyl, die eerste direkteur van die Sentrum​
  
Foto:  Studentesentrum inwyding - SAUK Simfonieorkes
Die uitvoering van die SAUK Simfonieorkes, onder leiding van Anton Hartman, was een van die hoogtepunte tydens die amptelike opening van die Studentesentrum wat in Maart 1980 plaasgevind het.
Prof Pieter de Villiers was die solis tydens die konsert en het die derde klavierkonsert van Beethoven uitgevoer, soos hy ook in 1954 gedoen het met die amptelike ingebruikneming van die Totiussaal. ​