Strydomhuis (C13)

Strydomhuis (C13)

  • Daar is vroeër gemeen dat wat nou bekend is as die Strydom-huis by Hoffmanstraat 49 (erf 995) in 1932/33 laat bou is deur mnr PJ Strydom. Die oorspronklike planne van die huis, wat in die NWU Argief bewaar word, dui aan dat die opdraggewer mej Emmarentia Helena Lambinon was en dat dit in 1932 ontwerp is. 
  • PJ Strydom ’n wiskundeonderwyser en later visehoof van Potchefstroom Gimnasium en sy familie het egter dekades lank die huis bewoon. Hy was van 1924 tot November 1953 aan die skool verbonde toe hy afgetree het. Hy het daarna nog jare in tydelike hoedanigheid skoolgehou. 
  • Die huis is ontwerp deur die Johannesburgse argitek, Nelly Edwards, in die Art Deco-styl.

Oorspronklike argitekplan

 

  • Aangesien daar toe geen meesterbouers in Potchefstroom was nie, is die tender toegeken aan meesterbouer Hookem van Johannesburg.
  • Die Strydom-gesin het in die huis gewoon totdat mev Strydom dit in 1988 verlaat het nadat dit deur die Potchefstroomse Onderwyskollege onteien is.
  • Die huis was een van drie in dié omgewing wat deur Nelly Edwards ontwerp is. Die huis by Esselenstraat 24, ook ’n Edwards-ontwerp, is in Maart 2008 onder omstrede omstandighede deur ’n ontwikkelaar sonder toestemming gesloop. Die derde huis het op die hoek van Borcherds- en Hoffmanstraat gestaan, waar die Senrio-gebou vandag is.
  • Nelly Edwards (1897 – ca1963) was na bewering die eerste vroulike argitek in Johannesburg. Sy is in Engeland gebore en het daar opleiding ontvang. Teen 1927 was sy in Suid-Afrika as argitek geregistreer. Benewens huise het sy ook twee groot woonstelgeboue, koshuise vir skole en kerke ontwerp. 
  • Haar ontwerpe is gekenmerk deur ’n hoë standaard van kreatiwiteit. Sy was uitstekend ingestel op die persoonlikheid en vereistes van elke kliënt en het in besonder aandag aan detail gegee. 
  • In 1992 het die Potchefstroomse tak van die Stigting Simon van der Stel aanbeveel dat dié huis op die Nasionale Register van bewarenswaardige geboue geplaas word.
  • Wat die bewaring van dié huis nog belangriker maak, is die feit dat dit waarskynlik die enigste van die huis in Potchefstroom wat Edwards ontwerp het, wat behoue gebly het.
  • In ’n publikasie van die Stigting Simon van der Stel, word die huis só beskryf:

 Hierdie smaakvolle woning illustreer die rol van ’n argitek by die ontwerp van ’n gebou, nie net om te voldoen aan die vereistes van die eienaar of kliënt nie, maar ook om ’n sinvolle keuse en samevoeging te verkry van beskikbaar bou- en afwerkingsmateriale. Dokumentêr is die huis belangrik, omdat dit bewys dat die volgende materiale verkrygbaar was in 1933: Voorafvervaardigde betonkolomme volgens Doriese ontwerp by die stoep, met ’n vloer van kleiteëls; houtvloere is in die huis gebruik, asook staalplafonne met geprofileerde houtdekstroke; uitstalbreekgoedrakkies bokant die prentelyste in die woonkamers; Art Deco-glasligskerms en Art Deco-kaggelomramings van klompjestene. Die slaapkamers se ligte het katrolle vir verstelbare hoogtes. ’n Wye keuse van staalraamvensters was beskikbaar soos weerspieël in die halfmaanvensters, boogvensters, ronde vensters, en ’n venster met ’n boog oor ’n derde van die reghoekige gedeelte. Art Nouveau-loodglasruitjies is gebruik in vensters en deure. Dekoratiewe houtluike om die vensters en ’n steenwerkboog oor die poort in die werfmuur bewys die aandag wat die argitek aan detail bestee het. Tegnologies interessant is die beskikbaarheid van waterdigtingsmateriaal wat verkrygbaar was vir die plat dakke oor houtkonstruksies vir die suidstoep en naaldwerkkamer. Buitemure is met sponnings gebou om klammigheid te voorkom.

  

PJ Strydom in 1932

Dié foto van PJ Strydom is in 1932 geneem en het in die boek, Potchefstroom Gimnasium 1907-1982 verskyn