Sanlam-Ouditorium

Sanlam-Ouditorium

Ingang na die Ouditorium vandag
 
 
  • Die argitekte, wat aanvanklik die Studentesentrum ontwerp het, het ook die gelyknamige Sanlam-Ouditorium van die Universiteit van Johannesburg (voorheen Randse Afrikaanse Universiteit) ontwerp. Nes daar is die ouditorium ontwerp as ’n gehoorsaal met ’n oop houtverhoog, in dieselfde styl as die Konservatoriumsaal.
  • In 1975 is aangekondig dat Potchefstroom ’n streekteater gaan kry wat opgerig sou word waar die Goetz-Fleischack-museum en die Biblioteek- en Museumgebou vandag in Sol Plaatjiestraat staan. Die Studentesentrum was reeds in aanbou toe die beloofde 80% van die boukoste van die streekteater, wat van die regering sou kom, deur die mat geval het. 
  • Na die streekteater van die baan is, het Johan van Rensburg, bekende musiekregisseur van die Alabama Studentegeselskap, voorgestel dat die planne verander word om die gehoorsaal in ’n teater te omskep, soos dit vandag lyk. Dié besluit is in so ’n laat stadium geneem dat die spasie beskikbaar te klein was om ’n volledige teater te bou met syverhoë, ’n tegniese toring waarin die beligting en dekor geberg kon word en behoorlike kleedkamers.
  • Die verhooggordyn alleen se installasiekoste was R68 000, terwyl daar aanvanklik net R47 000 daarvoor beskikbaar was. 

​ 

Die Ouditorium onder konstruksie - 1977 

 

Die Ouditorium na konstruksie in 1980

  • Die Alabama Studentegeselskap, die revuegeselskap van die universiteit, wat in daardie jare landswyd bekend was, was die voorreg beskore om die eerste konsert in die Ouditorium aan te bied. Dit was op 13 Augustus 1979. ​. 

Alabama Studentegeselskap

  • Die Ouditorium was al meer as ’n volle jaar in gebruik toe daar besluit is om die naam te verander. Die Wapad van 9 Oktober 1981 verduidelik: 

Die Raad van die PU het tydens sy laaste vergadering besluit dat die Ouditorium in die Hennie Bingle-Studentesentrum voortaan bekend sal staan as die Sanlam-Ouditorium. Die Raad het besluit om erkenning te gee aan Sanlam vir die volgehoue steun van die afgelope aantal jare. Sanlam het reeds ’n baie lang verbintenis met die PUK en verskeie geboue en ander verbeterings aan die Universiteitskampus is met behulp van Sanlam-skenkings moontlik gemaak. 

  • Aanvanklik is net R10 000 van Sanlam af ontvang, maar in die vroeë 2000’s het hulle sowat R1.2 miljoen geskenk vir herstelwerk en opgradering van die Ouditorium.
  • Die hoogtepunt van die amptelike ingebruikneming van die Studentesentrum was op 1 Maart 1980 met ’n uitvoering deur die Nasionale Simfonie-orkes van die SAUK. Gedurende dieselfde week het sportprogramme van topgehalte in die sportlokale plaasgevind. ’n Saamtrek van oudstudente het plaasgevind, waartydens die stigting van die Bond van Oud-Pukke plaasgevind het.  

Die uitvoering van die SAUK Simfonieorkes, onder leiding van Anton Hartman, was een van die hoogtepunte tydens die amptelike opening van die Studentesentrum wat op 1 Maart 1980 plaasgevind het.
Prof Pieter de Villiers was die solis tydens die konsert en het die derde klavierkonsert van Beethoven uitgevoer, soos hy ook in 1954 gedoen het met die amptelike ingebruikneming van die Totiussaal. 

    

 

  • Die Ouditorium het vinnig ’n baie gewilde plek geword vir verskeie geleenthede. In 1981 het 64 aanbiedings/funksies plaasgevind met ’n beraamde stoelbesetting van ±45 600 persone.  
  • Na dertien jaar se gebruik het die Ouditorium dringend opgradering benodig. Dit is in 1992 gedoen. Die beligtingsrekenaar, wat vroeër onherstelbare defekte opgedoen het, is vervang, tesame met noodsaaklike lugversorging vir die klank- en beligtingskamer. 
  • Dieselfde jaar het daklekke chaos veroorsaak. In ’n brief om die situasie te verduidelik, skryf die bestuurder van die Ouditorium, Peet Ryke dat by een geleentheid het reënwater gelek tot in ’n kamer waar daar feitlik net elektriese kabels is. Dit was so erg dat die reënwater op lede van die gehoor in die Ouditorium gedrup het!
  • Die indrukwekkende dakskildery van Judith Mason, in die foyer van die Ouditorium, wat die Nuwe Jerusalem uitbeeld, het in 1998 restourasie benodig. Die skildery van 11 x 4.5 meter was ’n geskenk aan die Sentrum deur die argitek, mnr Bannie Britz en word deur prof John Botha beskryf as een van die meesterkunswerke op die kampus. Wapad beskryf in 1979 die skildery: 

Die sentrale tema van die skildery is gebaseer op die grondplan van die stad Jerusalem met ’n krans berge rondom wat die oog binnetoe na die hoogte optrek. Rondom die sentrale tema is ander komplimenterende temas, byvoorbeeld ’n kleiner grondplan van Jerusalem met twee bloedspore daarbinne. Verskeie engelgesigte kan onderskei word, terwyl slange, bome van die lewe en paradystonele ook uitgebeeld word. 

  • Twee groot opgraderings is oor die jare gedoen. Na die skenking van Sanlam is die plafon van die foyer en die opset agter die verhoog, kleedkamers en fasiliteite vir kunstenaars, opgegradeer. 
  • In 2013 is die stoele die eerste keer in die 34 jaar van sy bestaan vervang, terwyl die matte die tweede keer vervang is. Die Ouditorium wat vroeër meer as ’n duisend sitplekke gehad het, het weens die breedte van die stoele, enkeles daarvan verloor. Daar is tans dus 998 sitplekke in die Ouditorium. Die koste van die vervanging van die matte en die stoele het R3,5 miljoen gekos.