POK hoofgebou (C6)

POK hoofgebou (C6)

Foto:  ongeveer 1942

  • ’n Behoefte aan onderwysers na die 1918 Griepepidemie het die provinsiale owerhede aangespoor om onderwyskolleges tot stand te bring.
  • Die Potchefstroomse Onderwyskollege (POK), of “Normaalskool” of “Normaalkollege” soos dit aanvanklik bekend was, is op 23 April 1919 amptelik geopen. Vier en twintig studente het met opleiding begin in ’n sinkgeboutjie op die terrein van die Potchefstroom High School for Boys. 
  • In 1920 is die inrigting oorgeplaas na die ou sinkgeboue of kantonnemente in die militêre kamp. In 1923 het die Kollege, saam met die sinkgeboue, na die terrein langs Presidentstraat verskuif. 
  • Vanaf 1921 kon studente saam met hulle onderwysopleiding ’n graadkursus aan die Potchefstroom Universiteitskollege (PUK) te volg. Onder die studente het hulle bekend gestaan as gePukte Pote.
  • Op 13 September 1940 neem die destydse direkteur van Onderwys, mnr HHG Kreft, die ingebruikneming waar van die Hoofgebou. Terselfdertyd word die koshuis, Ratau Lebone en die rektorswoning ook in gebruik geneem. 
  • In 1992 word die gebou só beskryf in ’n publikasie van die Stigting Simon van der Stel: 

Die Hoofgebou is ’n voorbeeld van Art Deco-argitektuur wat in Suid-Afrika beslag gekry het deur verbeterde kommunikasie met die buiteland, in ’n inisiatiefryke tegnologies ontwikkelende era voor die Tweede Wêreldoorlog. Die portiek is monumentaal en wanneer ’n mens na die mooi detailontwerp op die kapitele van die reusekolomme kyk, kry jy die gevoel dat jy jou oë rig op ’n tempel van kennis. 

Die Hoofingangsportaal is eweneens imponerend met dubbelvolumehoogte en marmerteëls teen die kolomme. Die res van die gebou vertoon sober funksioneel. Die Hoofgebou is in 1949 vergroot met ’n ekstra vleuel aan die noordekant. Dit is in 1992 vir plasing op die Nasionale Register van bewarenswaardige geboue aanbeveel.

 

Foto:  ongeveer 1940s

  • In 1992 is al die eiendom van POK aan die PU vir CHO oorgedra. In 2001, na ’n herstrukturering van die tersiêre onderwyslandskap, is POK by die PU vir CHO geïnkorporeer.
  • Tans huisves die ou Hoofgebou van POK die Fakulteit Opvoedkunde van die NWU, Potchefstroomkampus. 
 
 
POK-kampus 1942
So het die POK-ampus in 1942 gelyk. Die foto het in POK 50 Jaar verskyn.