Natuurwetenskappe-gebou (G1-G7)

Natuurwetenskappe-gebou (G1-G7) - "Spinnekop-kompleks"

Foto:  die gebou vandag

  • Die eerste gebou wat later deel sou uitmaak van die Spinnekop-kompleks, was die Fisika-gebou, wat op 11 Junie 1955 amptelik geopen is. Die gebou is deur prof AL Meiring ontwerp. Mnr JH Viljoen, Minister van Onderwys, Kuns en Wetenskap, het die gebou amptelik oopgesluit. 
  • In dié Fisika-gebou is die tweede hysbak ooit in Potchefstroom geïnstalleer. Dié hysbak was in 2016 nog in gebruik! Die eerste hysbak in Potchefstroom was in die Potchefstroom Hospitaal. 
  • ’n Natuurwetenskappe-kompleks is deur die voormalige Rektor, prof Hennie Bingle, in vroeg in 1965 in die vooruitsig gestel. Die geboue van Fisika en Chemie moes met mekaar verbind word en dit moes ook ’n tuiste bied vir Wiskunde, Toegepaste Wiskunde en Statistiek. 
  • Eers in 1968 het die Komitee vir Terreine en Geboue aanbeveel dat die geboue van ’n sekere groep departemente wat in lokale bymekaar gegroepeer was, in ’n groepkompleks herbou word.
  • Hierdie departemente wat almal ’n gebrek aan ruimte ondervind het, was Farmaseutika, Chemie, Fisika, Statistiek, Wiskunde, Toegepaste Wiskunde en Rekenaarwetenskap. 
  • Hier moes huisvesting gebied word vir die Afdeling Rekenaardienste, Instrumentmakery en Glasblasery. 
  • Nardus Conradie van Conradie, Müller en Vennote het die ontwerp van die gebou gedoen en dit is noord van die bestaande Fisika-, Chemie- en Industriële Chemie- en Farmakologie-laboratoriums opgerig.
  • Die formele naam daarvan is die Natuurwetenskappe-kompleks. Die gebou het egter gou die naam van die “Spinnekop”-gebou onder die studente gekry omdat die plattegrondontwerp daarvan aan ’n spinnekop herinner.
  • Bouwerk is in 1979 afgehandel.
  • In 2000 is ’n gedeelte van die kompleks teen ’n bedrag van R2 111 000 heringerig om ook die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese te huisves. 
  • In 2010 is die gebou weer eens gemoderniseer en in 2015 is die Dekaanskantoor van Natuurwetenskappe op die grondvloer gevestig. 
 

 

Foto:  die gebou in konstruksie in 1976

  

Foto:  1955 opening van die Fisika-gebou 
Mnr JH Viljoen, Minister van Onderwys, Kuns en Wetenskap is aan die woord tydens die amptelike opening van die Fisika-gebou op 11 Junie 1955.
By hom is sy vrou en regs is prof J Chr Coetzee, Rektor. Die foto het in Junie 1955 in Die Westelike Stem verskyn. ​.  

 

Foto:  Spinnekop-gebou skaalmodel
Hierdie foto van die skaalmodel van die Natuurwetenskappe-kompleks het in Maart 1972 in Wapad verskyn. Hieruit is dit duidelik waarom die gebou later die bynaam “Spinnekop-gebou” onder die studente gekry het. ​ 

 

 

 

Foto: Spinnekop-gebou met logo
Die Natuurwetenskappe-kompleks – beter bekend as die Spinnekop-gebou – is deur Conradie, Müller en Vennote ontwerp.
’n Foto daarvan is later deur dié argiteksfirma gekies om op die buiteblad van hulle lêeromslag te verskyn.  

 

Foto: Maureen Quinn 
Die kunswerk in die foyer van die Spinnekop-gebou is deur Maureen Quinn ontwerp. Dit beeld die voortyd en ontwikkeling van die aarde vanuit ’n natuurwetenskaplike perspektief uit.
Quinn het in 2016 ’n erepenning vir Visuele Kuns van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang. 

 

Foto: Van der Walt kunswerk
In 1976 is opdrag gegee aan die kunstenaar, J Petro van der Walt, om ’n kunswerk te skep vir die Fisika-gebou. Die werk, wat 6,5 m lank is, het vier elemente. Die glasbol met sy weerkaatsende vlekvrye staalvlakke stel simbolies ’n bron van lig, energie en straling voor. Daaronder is geboë driehoekige aluminium plate wat twee hande voorstel wat alle gawes uitgiet vir die mens om te waardeer, na te speur en te ontwikkel. Dit verteenwoordig die Goddelike gawes. Die derde element is die gevormde aluminium ring wat atoombeweging simboliseer. Dit verteenwoordig die menslike prestasie, sy arbeid, tegniek en ontwikkeling, maar veral ook navorsing. Deur die ontwerp beweeg ’n straal wat in ’n kernreaksie uitmekaar spat en ’n kruis voorstel. Die straal verteenwoordig die navorsing op kosmiese strale en kernfisika wat deur Fisika gedoen word en die kruis is die simbool van die Christelike karakter van die inrigting. Die kunstenaar is plaaslik bekend as Hannes van der Walt en hy was van 1959 tot 1989 hoof van die Instrumentmakery, wat ook in die Spinnekop-gebou gehuisves is.
(Foto en inligting uit NWU Galery vier die beeldhouwerk van Hannes Petro van der Walt”, 2015, saamgestel deur John R Botha.) ​