LJ du Plessis-gebou

LJ du Plessis-gebou (F4)

Foto geneem ongeveer 1967

 

Teen 1950 was daar ’n dringende tekort aan groter kantoorruimte vir administratiewe personeel. 
As deel van ’n vyfjaarplan is die oprigting van ’n nuwe administratiewe gebou reeds aan die begin van 1951 as ’n prioriteit beskou.
Planne is opgetrek, maar na die bou van ander geboue, was die £30 000 wat daarvoor nodig was nie beskikbaar nie. Dit is ten spyte van ’n staatsubsidie op ’n pond-vir-pond basis.
Uiteindelik is tenders vir die bouwerk in Maart 1955 aangevra. 
Die gebou is ontwerp om benewens kantore vir administratiewe personeel, ook die rektor te huisves. Vandag is die voormalige rektorskantoor dié van die dekaan van Geesteswetenskappe. ’n Wigvormige senaatsaal is as anneks aan die noordekant aangebring. 
 

Die LJ du Plessis in aanbou
 
Die Eerste Minister, adv JG Strijdom, het op 25 Augustus 1956 die hoeksteen gelê.
Die gebou is tydens ’n feestelike seremonie deur die Sekretaris van Nasionale Onderwys, mnr JJP Op ’t Hof, op 11 Mei 1957 amptelik oopgesluit. Terselfdertyd is die Fisika-laboratorium ook deur hom geopen. 
Die eerste Senaatsvergadering is in Mei 1957 in die Senaatsaal gehou. 
Op grond van ’n groot geldskenking van SANLAM is dit aanvanklik die SANLAM-gebou genoem. 
Dit is later vernoem na Prof LJ (Wicus) du Plessis (1897-1968). Hy was die eerste dosent in ekonomiese vakke en ook in regsvakke. Sy studente het hom as die slimste man op aarde beskou. 
 

Prof LJ du Plessis

        Inligting oor Prof Du Plessis

  • Sy pa was ’n dosent aan die Teologiese Skool in Burgersdorp en hyself het in 1917 ’n BA-graad aan die Teologiese Skool in Potchefstroom se Literariese Afdeling behaal. Na ’n Honneurs in Klassieke Tale (Grieks en Latyn) aan die Transvaalse Universiteitskollege (Tukkies), is hy in 1918 aangestel as lektor in die Klassieke Tale by die Teologiese Skool. Hy het ’n MA-graad in die Klassieke in 1923 behaal, in 1931 die MEcon-graad en in 1934 ’n LLB.
  • Een van sy grootste prestasies was dat hy in die 1930’s die sekretaris van die Bybelvertalers was. Met sy kennis van Grieks en Afrikaans, kon hy waardevolle aanbevelings maak. 
  • In 1934 was hy saam met vier-en-dertig ander Afrikaners stigterslid van Volkskas (tans deel van ABSA-bank) en was elf jaar daarna voorsitter van die direksie.
  • In 1948 het hy die akademie verlaat om ’n sakeman te word. Nadat hy in 1951 gekies is as die eerste voorsitter van die Konvokasie van die selfstandige Potchefstroomse Universiteit, was prof Wicus in 1953 terug by die Universiteit – weer as professor.
  • Hy het in 1961 weens gesondheidsredes vroeër afgetree en in 1963 ’n leukotomie ondergaan. Dié breinoperasie was toe die voorpunt van tegnologie, maar vandag word dit beskryf as ’n ruwe, onwetenskaplike en gevaarlike prosedure.
  • Hy is in 1968 op Potchefstroom oorlede. Hierdie man, wat ’n baanbreker was, gereken is as ’n denker van formaat en deur die Eerste Minister, dr DF Malan, oorweeg is as sy opvolger, is in sy latere lewe deur psigologiese probleme geteister. Tog moet hy steeds gereken word as een van die mees fenomenale mans wat ooit aan die Universiteit verbonde was.