Konservatorium (K1)

Konservatorium (K1)

  • Die musiekgeskiedenis van Potchefstroom begin bykans ’n eeu voor die Konservatorium gebou is. Die eerste musiekuitvoering op Potchefstroom, waarvan daar rekord is, was op 9 Augustus 1863 toe ’n groep met die naam De Harmonie ’n konsert aangebied het met ’n ambisieuse 21 items op die program.
  • In die jare daarna was verskeie musiekverenigings en -onderwysers op Potchefstroom bedrywig.  In 1914 stig MM van der Bent en sy vrou, Florence, die Potchefstroom College of Music, gehuisves in ’n gebou in Potgieterstraat (tans Nelson Mandela-rylaan). Toe die Potchefstroomse Universiteitskollege (PUK) dié musiekskool in 1949 koop, was dit een van die belangrikste musiekinrigtings in die Wes-Transvaal.  .

 

Foto: Ongeveer 1950
 
  • Die PUK het reeds vroeër in die veertigerjare musieklesse aangebied. Teen 1945 is die Departement Musiek gestig en is Musiek erken as een van die hoofvakke vir ’n BA-graad. Die voltydse lektor was mnr Jacques Malan.
  • Die lewendige belangstelling in musiek in die gemeenskap van Potchefstroom was een van die redes wat die Universiteit oorreed het om die Konservatorium vir Praktiese Musiek te stig, waar studente onderrig in musiek kon ontvang. Die eerste hoof was ’n bekende en gesogte orrelis, MC (Maarten) Roode, wat onder meer opgetree het as die amptelike orrelis tydens die ingebruikneming van die Voortrekkermonument. Roode het in Julie 1949 by die PUK diens aanvaar. 
  • Toe daar in 1950 begin is met onderrig aan die Konservatorium was daar 307 musiekleerlinge wat deur 14 leerkragte onderrig is. Onder Roode se bekwame leiding het die Konservatorium konstant gegroei. Die Konservatorium en die Departement Musiek het onafhanklik van mekaar bestaan tot in 1955, ná die vertrek van dr Jacques Malan, toe dit saamgevoeg is.
  • Roode het in 1953 professor geword en in 1956 met die samesmelting met die Departement Musiek ook hoof daarvan. Hy is op sestigjarige leeftyd in 1967 dood na ’n motorongeluk in Potchefstroom waarin sy vrou ook omgekom het.  
  • Die eerste gebou wat vir musiekopleiding gebruik is, was die ou meule op die Oude Molen-terrein, waar die Konservatorium tans staan. Met die groei van die studentetal is lokale oral in die dorp benut, onder meer die ou Teologiese Skool, fasiliteite by nabygeleë skole en ’n huurhuis.
  • Daar is reeds in 1952 begin met die beplanning vir die bou van ’n Konservatorium en daarvoor is selfs buitelandse universiteite geraadpleeg. 
  • Na deeglike oorweging is daar besluit om die gebou op die Oude Molen-terrein op te rig omdat die verwagte toename in motorverkeer vir uitvoerings slegs daar hanteer sou kon word. 
  • Die argitek van die Konservatorium was Johan de Ridder, wat ’n moeilike taak op hande gehad het. Net £75 000 was beskikbaar terwyl die aanvanklike koste beraam is op £192 100. Dus moes daar grootliks afgeskaal word. Na afskaling het die planne voorsiening gemaak vir ’n gehoorsaal met 1 200 sitplekke, 20 klein oefenkamers, 12 ateljees, vier klaskamers en ’n biblioteek wat ook as diskoteek moes dien, twee orreloefenkamers, ’n instrumentepakkamer, drie kantore, ’n personeelkamer, kombuis, kleedkamers en toiletgeriewe. Die totale koste van £70 610 het lugreëling en toebehore uitgesluit en was dus steeds te veel.
  • Na verdere oorlegpleging is die orkesruimte in die gehoorsaal uitgesluit en is dit verklein tot 350 sitplekke. Die finale koste het £78 000 beloop.
  • Die orrel wat aanvanklik in die Konservatoriumsaal was, is deur ’n plaaslike orrelboufirma R Müller & Son gebou en is deur die hoof van die Konservatorium prof MC Roode self ontwerp. Dié orrel is later vanweë sy tegniese en artistieke tekortkominge nie meer gebruik nie en is in 1992 verwyder en in die Gereformeerde Kerk Wapadrant opgerig.
  • Die inwyding van die Konservatorium was ’n groot en belangrike geleentheid vir die Universiteit. Die amptelike opening was op 8 April 1960 en is deur die Kanselier van die Universiteit, dr FJ (Frans) du Toit, waargeneem. Ses konserte is vroeg in Mei 1960 aangebied as deel van die inwydingsprogram. 
  • Een daarvan was ’n optrede deur die komponis, Arnold van Wyk, in ’n program wat in geheel uit sy werke bestaan het. Die SAUK Konsertorkes, onder leiding van Anton Hartman, het ook ’n konsert gehou. 
  • Die Konservatorium is toe beskryf as die mees moderne in die Unie van Suid-Afrika en die Potchefstroomse Universiteit was die eerste universiteit in die land wat sy eie Konservatorium-gebou gehad het.  
  • In 1963 is ’n verdere saal aan die agterkant aangebou en in 1974 is die orrelgehoorsaal en nuwe biblioteek/diskoteek in 1974 as deel van ’n driepverdiepingvleuel aangebou.  
  • Tans huisves die Konservatorium die Skool vir Musiek, soos die ou Departement Musiek sedert 2003 bekend staan.
  • Fasiliteite by die Konservatorium sluit in die Konservatoriumsaal met 372 sitplekke, terwyl die orrelsaal met sy barokorrel ongeveer 100 sitplekke het.  
  • Die Pretorius musiekstudio huisves talle antieke stukke en waardevolle Suid-Afrikaanse kunswerke en het sitplek vir 80.  Benewens die musiekbiblioteek is daar ook twee lesingsale en enkele ateljees, ongeveer 30 oefenkamers, hoofsaaklik elk toegerus met ’n klavier, terwyl twee oefenorrels bevat.  

Prof MC Roode
Prof MC Roode was vanaf 1949 tot en met sy dood na ’n motorongeluk in 1967 aan die PU verbonde. Hy was die eerste hoof van die Konservatorium. 
 
 
 
Herald 29 April 1960 
Die Potchefstroom Herald het wye dekking gegee aan die inwyding van die Konservatorium in 1960.  Hierdie fotoblad verskyn op 29 April 1960 en toon van die kunstenaars wat tydens van die inwydingskonserte opgetree het. 
Regs bo is Pieter de Villiers wat die bekende komponis Arnold van Wyk bygestaan het in die uitvoering van ’n werk vir vier hande. 
Links onder is Arnold van Wyk. Een van die ses inwydingskonserte is net aan sy werke gewy.
In die middel bo is die sopraan Betsie de la Porte, wat deur Van Wyk begelei sou word.
In die middel onder is Anton Hartman, dirigent van die SAUK Konsertorkes, wat in nog ’n konsert sou optree.
 

Argitek van die konservatorium:  Johan de Ridder (1927-2013)
Foto: artefacts.co.za 

Op die NWU-kampus het hy ook die Dierkunde-gebou, die Fisiologie-gebou, die Farmasie-gebou en die Sielkunde-gebou ontwerp.
Toe die President Pretorius-museum in die laat 1970’s gerestoureer is, was hy die restourasie-argitek. Hy het ook die kerkgebou van die Gereformeerde Kerk, Potchefstroom ontwerp. 

 

Hierdie kunstenaarsvoorstelling wys hoe die Konservatorium gelyk het nadat dit in 1960 voltooi is. 
Die kunstenaar was CMA Hattingh en die argitek van die Konservatorium was Johan de Ridder. 

 

Foto:  Ongeveer 1960

 

Foto:  Ongeveer 1989