Hoofgebou

Hoofgebou (F5)

 

  • Die voormalige Potchefstroomse Universiteitskollege was aanvanklik in 'n aantal sinkgeboue gehuisves.
  • Die hoofgebou was die eerste permanente akademiese gebou op die kampus van die PU vir CHO. Dit het aanvanklik die rektor en administrasie, biblioteek, laboratoriums en alle ander akademiese aktiwiteite gehuisves.
  • Dit is op 4 April 1931 ingewy en as Nasionale Monument op 11 Mei 1984 verklaar.

Hoofgebou na voltooing in 1930

  • Die argitek was Henri Louw van Bloemfontein wat die gebou in die styl van die Italiaanse Renaissance ontwerp het, vandaar die balkonne.
  • Die sewe boë het ooreengestem met die sewe kandelaars van die embleem van die Potchefstroomse Universiteitskollege, soos die NWU-PUK destyds bekend gestaan het.
  • Dit is gebou teen 'n koste van £18 948 (R372 652) en is hoofsaaklik deur skenkings befonds.
  • Die hoeksteen van die gebou is op 4 Augustus 1930 deur dr DF Malan, Minister van Onderwys, gelê. Die hoeksteen is voorafgegaan deur 'n kongres van PUK-komitees, waartydens 'n besluit geneem is oor die sogenaamde "kamerstelsel". Volgens hierdie stelsel het een of meer persone of 'n komitee onderneem om 'n bedrag geld te verskaf wat die bou van een van die universiteitsgeboue sou finansier. Die stelsel is goed ontvang, soos blyk uit die koperplate, wat erkenning gee aan die skenkings, vandag in byna al die kamers van die Hoofgebou.
  • Tydens die ingebruikneming van die gebou is, benewens die administratiewe kantore, 'n aantal akademiese departemente en die biblioteek in die hoofgebou gehuisves.
  • Tans huisves die hoofgebou die Fakulteit Regsgeleerdheid, heel waarskynlik die enigste fakulteit op kampus wat die langste in een gebou gehuisves is.
  • •In hierdie gebou het mense soos professore F Postma, JC van Rooy, J Chris Coetzee, HG Stoker, G Dekker en JD du Toit (Totius) en vele ander akademici gewerk.

 


  Die Hoofgebou brand!

Main building burning

Main building burning

Dit is juis ’n brand wat die biblioteek van die Universiteit van die Witwatersrand in 1931 verwoes het, wat die PUK genoop het om sy biblioteek van die ou sinkbarakke na die hoofgebou te verskuif waar dit in die noordoostelike vleuel ingerig is.

Op 23 Februarie 1949, met die opening van die akademiese jaar, moes die studente en personeel magteloos toekyk hoe hulle biblioteek deur vlamme verwoes word.  Dit is veroorsaak deur ’n kortsluiting in die elektriese bedrading van die hoofgebou dat ’n brand in die biblioteek uitbreek.
Die brand kon beperk word tot die eerste verdieping se noordoostelike vleuel, maar die biblioteek is in puin gelê.  Dit word bereken dat 30 000 boeke en 4 000 tydskrifte in die slag gebly het. Van die onvervangbare items was oorspronklike manuskripte van die werke van die skrywer Jan F. Celliers.
Skenkings in die vorm van boeke en geld is van oor die hele land ontvang. Daar is dadelik begin om planne te maak vir ’n nuwe moderne biblioteekgebou en die hoeksteen daarvan is in Maart 1951 gelê.

 

 

Main Building - Potchefstroom Campus

Hoofgebou vandag