Frans du Toit-gebou (E9)

Frans du Toit-gebou (E9)

                                                                                          Gebou in 1966
 
  • In die 1950’s was departemente van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte steeds in die Hoofgebou gehuisves. Daar is reeds in 1948 in beginsel besluit om ’n aparte gebou vir Lettere op te rig, maar daar was sterker behoeftes, soos ’n nuwe biblioteek en laboratoriums. 
  • In 1956 het die Komitee vir Terreine en Geboue aangedui dat die die terrein oos van die biblioteek bestem is vir ’n gebou vir Lettere en Wysbegeerte. 
  • In 1960 is die oprigting van die gebou goedgekeur, maar slegs na afhandeling van ander bouwerk. Dus kon die gebou meer doelmatig beplan word. 
  • Daar is gehoop dat die gebou genoeg ruimte sou hê vir al die departemente van Lettere en Wysbegeerte, maar weens geldtekort kon slegs 19 departemente aanvanklik hier gehuisves word.
  • Prof AL Meiring van die argiteksfirma Meiring en Naudé het opdrag ontvang. Die gebou moes naas kantore en lesinglokale ook lokale hê vir gespesialiseerde onderrig, insluitende seminaarkamers, ’n taallaboratorium, volkekundemuseum, dekaanskantoor, ’n konferensiesaal, personeelkamer en uitstallokaal. Daar was nie genoeg ruimte dat elke personeellid ’n kantoor kon kry nie, slegs professore het dié voorreg gehad. 
  • Tenders is vroeg in 1963 aangevra vir die oprigting. Koste is op R239 000 beraam en die afleweringsdatum is gestel op September 1964.
  • Slegs die helfte van die gebou was teen dié datum klaar en dit is uiteindelik in April 1965 voltooi. 
  • Die gebou is vernoem na ’n voormalige Kanselier van die Universiteit, dr FJ (Frans) du Toit. Hy het dié amp vanaf 26 November 1954 beklee het en het oorgeneem na die dood van prof JC van Rooy. Op 17 Maart 1961 sterf dr Du Toit in Bangkok, Thailand tydens ’n handelsending aan dié land. Deur sy bemiddeling is in 1957 sowat R70 000 tot die boufonds van die Universiteit gevoeg. Later in 1961 is aangekondig dat die nuwe gebou vir Lettere en Wysbegeerte na hom vernoem sal word.