Heimat Gebou Potchefstroomkampus van die NWU

Heimat Gebou (F9)

Heimat Building on the Potchefstroom Campus of the NWU

Heimat gebou op die Potchefstroomkampus van die NWU

Heimat Building on the Potchefstroom Campus of the NWU

Heimat (vroeg 2000's)


Die neo-Kaaps-Hollandse gebou wat ons vandag as Heimat ken, was die eerste permanente gebou op die kampus van die Potchefstroomse Universiteitskollege (PUK).

Dit was 'n koshuis vir manlike studente en is aan die begin van 1927 ingewy. Die argitek was die bekende Gerard Moerdyk en die bouer was C. Jamieson van Florida.

Die gebou kon 50 studente huisves. Die naam, wat "huis" in Duits beteken, is deur die eerste inwoners gekies.

Die Heimat-saal was aanvanklik die eetsaal van die koshuis. Dit het nog altyd 'n verhoog gehad met 'n proscenium (die voorste boog van die verhoog waaruit die gordyne hang).

Aanvanklik is dit vir etes, konserte en vergaderings gebruik totdat die Hoofgebou (tans die Fakulteit Regte) in 1930 geopen het en sulke aktiwiteite daarheen verhuis het.


Voor en tydens die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het spanning hoog geloop tussen die studente van die PUK en die soldate wat in Potchefstroom gestasioneer was.

Heimat dining hall set for dinner

Op 7 Augustus 1940 het 'n groep soldate, gewapen met pikhandvatsels wat met lood gevul was en doringdraad om dit, studente in die studentesaal aangeval. 'n Groep soldate het na Heimat gegaan en die trappe probeer opstorm, maar die studente het die trappe met beddens versper. Sommige vernuftige studente het die metaalrelings van die trappe geëlektrifiseer.

Heimat after attack 1940

Toe hulle nie die boonste verdieping kon bereik nie, het die soldate hul geweld op die eetsaal gefokus, waar die tafels reeds vir die volgende oggend se ontbyt gedek was. Tafels is omgekeer, tafelpote afgebreek en die breekware is stukkend geslaan.

Heimat after attack


Sedert die laat 1970's is die saal nie meer vir etes gebruik nie. Nadat die inwoners uit die gebou getrek het, is 'n deel van die Heimat-gebou aan die Departement Beeldende Kunste toegeken. Die saal is toe gebruik as 'n onderrig- en uitstalruimte vir kunswerke, terwyl die westelike vleuel deur Beskermingsdienste beset is.

Heimat is tot 1981 as 'n manskoshuis gebruik toe die inwoners na Patria verhuis het.

Op 11 Mei 1984 is Heimat tot nasionale monument verklaar, aangesien dit so 'n belangrike mylpaal in die geskiedenis van die Universiteit verteenwoordig het.

In 1991 is die dorpskoshuis Heimat gestig met sy klubhuis wat steeds deel is van die oorspronklike Heimat-kompleks.

In 1991 is die Departement Beeldende Kunste gesluit as deel van 'n omvattende rasionaliseringsproses. Die gebou is toe vir kort tydperke deur die PU Militêre Eenheid en as kantore vir vakbonde gebruik.

In November 1996 het die Departement Kultuur – voorganger van NWU Kunste  – ingetrek en kantore is ingerig vir groepe soos die Alabama Studentegeselskap, die PU-koor, Thalia Toneelgesekslap en die Serenaders.

In 2002 het Beskermingsdienste uitgetrek en die verhoog is heropen. Konserte, etes en uitstallings is weer in die Heimat-saal gehou.

In 2009 is die Artéma Recording Studio op die boonste verdieping van Heimat voltooi.