Nuus - Kampusdebat 2018

Kampusdebat 2018

Margaret Thatcher het gesê: “Ek is lief vir debat. Ek is lief vir argumente. Ek verwag nie van enige iemand om net daar te sit en met my saam te stem nie, dit is nie hul werk nie.” Die presiese woorde het lewe gekry tydens Debat 2018, waar studentesprekers van die NWU Potchefstroomkampus mekaar die stryd aangesê het vir die titel van debat-kampioen van ons kampus.

Debat bied aan studente van die NWU Potchefstroomkampus die geleentheid om hul vaardighede as orators te beoefen. Margy Jacobs, ondervoorsitter van die KSR: Kunsteraad en organiseerder van Debat 2018 noem dat vanjaar die eerste jaar was waar daar beide ʼn Afrikaanse en ʼn Engelse debatliga was. Studente was gekonfronteer met komplekse onderwerpe soos: “Hierdie huis ondersteun die Verenigde Koninkryk se besluit om die Europese Unie te verlaat” en “Hierdie huis ondersteun ’n twee-staat oplossing vir die Israel-Palestina konflik.”

Debat behels dat daar twee spanne is, naamlik die regering en die opposisie, wat elk bestaan uit 4 lede. Die regering begin die debat waarna die opposisie sal met hul repliek en teenargumente. Elke lid van die span (ook genoem die party) het sewe minute en vyftien sekondes om hul argumente te lewer. Lede tot die debat kan deurentyd vrae rig aan die sprekers in ʼn poging om hul mededinger se argument te ontrafel. Dit is juis dié element wat sprekers dwing om flink en logies te dink tydens hul spreekbeurt.

Die finale beoordelingspaneel het verskeie kenners op die terrein ingesluit, ondermeer: Prof. Paul Schutte, Daniella van Heerden, Bennie Botha, Jean-Marc Stidworthy, Leeto Nthoba, Nopisho Fish, Cyprian Moloto en Prof. Klaus Beiter.

Heide Dameskoshuis is aangewys as die algehele dames wenners, met Excelsior, Patria en Veritas Manskoshuis gesamentlik as algehele wenners vir die mans. Ruan Jacobs en Marlene Roets het afsonderlik die titels vir beste Afrikaanse mans-en damesspreker ontvang, met die titel van Beste Engelse sprekers wat toegeken was aan Nametsegang Larato Mokae (Dames), en beide Joshua Swart en Divan van Wyk vir die mans.

En soos enige debatspreker sal getuig, kies jou kant, en veg hand en tand! Margaret Thatcher het tog gesê: “Om in die middel van die pad te staan is vreeslik gevaarlik, jy mag dalk net raak gery word deur die verkeer van beide kante.

Dankie aan die ATKV wat Kampusdebat 2018 moontlik gemaak het as hoofborg.

Volg die skakel vir die volle uitslae van Kampusdebat 2018, of gaan na die NWU-Puk Kunste/Arts Facebook blad vir meer inligting.

Geskryf deur: Christian Herselman

Foto: Tian du Preez