Amfiteater

Amfiteater

 

Amfiteater vandag

  • Bannie Britz, een van die medewerkende argitekte van die Studentesentrum, het hierdie omskrywing van die argitektoniese oogmerke en styl van die Studentesentrum geskryf. Dit is ingesluit in die program van die ingebruikneming van die Hennie Bingle-Studentesentrum in 1980:

Tien jaar gelede is met die beplanning van die Studentesentrum begin. Dit was die tyd van studente-onrus oral in die wêreld. Die destydse rektor, professor Hennie Bingle, het opdrag gegee dat die kompleks gebou moes word om die studente tuis te laat voel op die kampus. Hy was op soek na ’n gebou met ’n sekere eenvoud en bonkigheid om uitdrukking te gee aan bepaalde eienskappe van die Afrikaner. Die kompleks moes bestaan uit die gehoorsaal, komiteekamers, kantore en raadsaal vir studente en die studenteraad, ’n groot omvattende binnenshuise sportsentrum, kafeteria met sitkamers en ’n groot opelug amfiteater. 

Die plasing van die kompleks op die kampus is gedoen deur mnr Wilhelm Meyer, die universiteitsargitek, wat ook vir die projek aangestel is. 

Die argitekte het besef dat hierdie gebouekompleks unieke moontlikhede inhou en het besluit om meer te doen as om net die gevraagde fasiliteite op ’n doelmatige manier te verskaf. Die volgende oogmerke is nagestreef:

  1. Die kompleks moes ’n opvoedkundige instrument wees. Daar vind tans omvattende verstedeliking plaas. Stedelinge gebruik hulle tyd anders as landelike mense. Die gebou moes stimuleer tot skeppende en aktiewe gebruik van tyd, deur mense bewus te maak van die wye verskeidenheid aktiwiteite wat die stad in ons tyd bied. 
  2. Dit moes area wees waar jongmense tuis sou voel. Kleurgebruik sou ’n belangrike middel wees om jeugdige lewenslus te stimuleer.
  3. ’n Eerste plaaslike prototipe van ’n soort kompleks wat al meer – veral in Europa – voorkom, is beoog. Die funksie van ’n algemene bymekaarkomplek wat byvoorbeeld deur die Griekse Agora of die Middeleeuse stadsplein vervul is, ontbreek in die moderne stad. Die moderne vervoer- en kommunikasiemiddels het die stad, en daarmee die gemeenskap, uitmekaar getrek. Veeldoelige gemeenskapsentrums wat al meer gebou word, dien as fokuspunte in talle stede. Daar is gesoek na ’n punt van ekwilibrium in die universiteit, wat terselfdertyd mense van binne en buite sou binnetrek, soos ’n magneet, om sodoende interaksie te bewerkstellig.
  4. plasing van die geboue op die huidige swaartepunt van die kampus, oor die hoofbewegingsroetes van die studente was gelukkig. Dit het gelei tot ’n eenvoudige konsep van ’n binneplein, gekoppel aan die amfiteater. Met sy fontein, sitplekke en bome moes dit ontmoetings- en skuurplek word. Die interne sirkulasie is gestruktureer rondom ’n interne ringstraat op eersteverdiepingvlak. Die kort periode wat dit neem om hierdie straat om te stap moes jou blootstel aan al die veelvuldige aktiwiteite en hopelik aanmoedig om ’n deelnemer te word. Die straat word dus ’n belangrike kommunikasiemiddel. 
  5. argitektoniese taal is eenvoudig. Daar is bewustelik gesoek na ’n ‘landskap’ waarin mense meer bewus sou wees van die ruimtes, plekke, en hulle aktiwiteite, sowel as van die drama van interaksie van omsluitende elemente soos fassades. Die vloer van die kompleks, met sy op- en afbewegings, trappe en oplope moes die belangrikste fassade van die gebou wees en is beklemtoon met allerlei patrone. Alle moontlike bome is behou en aangevul om by te dra tot ’n versmelting van die grense tussen argitektuur en landskap. Daar is gestrewe om ’n plek te skep waar stedelike omgewing, kuns, landskap en argitektuur onselfbewus saamwerk eerder as om ’n interessante vreemde objek in die universiteitsweefsel te plant.
  6. Die tyd sal leer of hierdie eksperiment ’n sinvolle dimensie aan die universiteitslewe sal toevoeg.

Dié argiteksplan van die Studentesentrum is op 9 Augustus 1974 in die PU-Kaner gepubliseer.
Dit toon (1) die Saal (ouditorium) (2) daktuin (wat later verander is) (3) kafeteria en sitkamers (4) binnenshuise sportsaal en sportlokale (5) amfiteater
(6) binnehof en fonteintjie (laasgenoemde bestaan ook nie meer nie)
(7) studenteraadkantore en (8) een van die wandelpaaie (vandag bekend as Lovers Lane).

 

Wapad publiseer op 11 Februarie 1977 hierdie foto van die Studentesentrum in aanbou.
Voor is die kafeteria- en sitkamerblok en regs bo is ’n gedeelte van die Amfiteater reeds uitkenbaar. 

 
  • Die Amfiteater met sy 3 500 sitplekke is in 1980 in gebruik geneem. Dit was hoofsaaklik bedoel om gebruik te word vir massabyeenkomste, monstervergaderings (in die taal van 1980), buitelugkonserte en individuele sportaktiwiteite.
  • Oorspronklik was die betonsitplekke bedek met hout, maar dit is later verwyder. Van meet af is daar besef dat indien die Amfiteater ’n dak gehad het, sou die gebruiksfrekwensie veel hoër gewees het.
  • In 2006 is aangekondig dat die planne om die Amfiteater met ’n dak te bedek, afgeskop het. Die eerste fase is in Julie 2007 afgehandel, wat behels het dat die sirkelsitplekke aan die oostekant en die dorpskoshuiskantore gesloop is.
  • Die volgende fase het heelwat langer geneem. Aanvanklik is oorweeg om die dak van sintetiese seile te maak, maar dit het nie voldoen aan die standaarde wat gestel is nie. Nadat daar op die huidige ontwerp besluit is, is die projek verder gekortwiek nadat staal vir die pilare nie beskikbaar was nie. 
  • Daar is gehoop dat die dak reeds vir die eerstejaarsontvangs in 2008 gereed sou wees, maar dit is eers later daardie jaar afgehandel. 


Foto:  Groot Brag 1979
Na die ingebruikstelling van die nuwe Studentesentrum in Julie 1979 is die eerste Groot Brag, net voor die Intervarsity in Augustus dié jaar, in die Amfiteater gehou.
 
Foto:  Herald van Vuuren - 1984
Met die eerstejaarsontvangs in 1984 het Januarie-son genadeloos op die ouers en studente in die Amfiteater gebak.
Ds AMJ van Vuuren het ’n hoed gemaak van die omslag waarin ’n komplimentêre Herald, die gemeenskapskoerant van Potchefstroom, verpak is.
Dié foto het op 31 Januarie 1984 in die Potchefstroom Herald verskyn.