Algemeen

Departement Navorsingsondersteuning

Die Departement Navorsingsondersteuning is ʼn integrale deel van die kernbesigheid van die Noordwes-Universiteit (NWU) en speel ʼn belangrike ondersteuningsrol in die bereiking van strategiese doelwit 2 van die instansie, naamlik: ‘Intensiveer Navorsing en Innovasie'. Om lewering van die beste moontlike diens te verseker, gaan die Departement Navorsingsondersteuning daarmee voort om sy prestasie te evalueer en om risiko's te identifiseer.

Agtergrond

Die vernaamste doelwit van die Departement is om ondersteuning te bied aan navorsers en akademici op al drie kampusse van die NWU. Daar is verskeie ondersteunings- en opleidingsprogramme binne die departement wat fokus op ontluikende navorsers, jong en opkomende navorsers en gevestigde navorsers by die Universiteit. ʼn Aantal programme ondersteun ook meestersgraad- en doktorsgraadstudente. Die Departement maak ook seker dat alle NWU-navorsers inligting ontvang oor befondsingsgeleenthede wat op nasionale en internasionale platforms beskikbaar is. Ons ondersteuningsdienste bestaan uit vier primêre prosesse, naamlik Navorsingskapasiteitsontwikkeling, Kwaliteitverbetering van Navorsing, Bestuur van Navorsingsfondse en Bestuur van Inligting oor Navorsingsuitsette. Dit word geïmplementeer deur meer as 25 sekondêre prosesse, gegroepeer in ses programme, naamlik Ontluikende Navorsers (postdoktorale genootskappe, werkswinkels, opleiding, mentorskapondersteuning, navorsingsinternskappe, ens.), Navorsingsentiteite-ondersteuning (aansoeke, opgradering, interne evaluerings, eksterne evaluerings, jaarverslae vir 40 navorsingsentiteite), Pre-toekenningsbestuur (bestuur van meer as 80 befondsingsoproepe van nasionale en internasionale befondsers), Post-toekenningsbestuur, Bestuur van Inligting oor Navorsingsuitsette en Navorsingsuitnemendheidsprogram (navorsingsleerstoele, gegradeerde navorsers, navorsings- en innovasietoekenning, ens.). Nóg twee programme – Nagraadse Ondersteuning en Navorsingsigbaarheid – is bygevoeg in 2019. Planne is in plek om die agt programme in vyf operasionele onderafdelings/klusters saam te groepeer vir doeltreffende bestuur van die prosesse.

Evalueringskomitee vir navorsingsentiteite

Die Evalueringskomitee vir navorsingsentiteite is hier om deur die Institusionele Komitee vir Navorsing en Innovasie kundige advies aan die Institusionele Senaat oor die gehalte van navorsingsprogramme binne erkende navorsingsentiteite en navorsingsentrums van die NWU te verskaf.  Hierdie komitee verleen ook advies oor navorsingsbeleide en -prosedures vir die bevordering van navorsing aan die institusionele en kampusbestuur.

Handleiding vir nagraadse studies deur die Institusionele Komitee vir Navorsing en Innovasie (IKNI)

Die IKNI-handleiding vir nagraadse studies is deur die Senaat van die NWU vir gebruik deur nagraadse studente van die NWU goedgekeur.

Die handleiding is ’n bindende beleidsdokument en verskaf riglyne ten opsigte van die verskillende beleide en prosesse wat by meestersgraad- en doktorale studies aan die NWU betrokke is.

Ons raai alle voornemende en geregistreerde studente aan om hulle te vergewis van die verskillende reëls, prosesse en beleide waarna daar in hierdie dokument verwys word. 

 

Klik op die skakel om die IKNI-handleiding vir nagraadse studies af te laai.