Die Kantoor vir die Regte van Mense met Gestremdhede (KRMG) kan jou help deur inligting te verskaf oor spesifieke gestremdhede en die behoeftes van studente wat dit ervaar (doen asseblief navraag by die Kantoor vir die Regte van Mense met Gestremdhede (KRMG) op jou kampus om meer uit te vind). Ons kan byvoorbeeld personeelvergaderings bywoon om akademiese kwessies van postsekondêre-onderwysstudente met gestremdhede en doeltreffende onderrigmetodes vir hierdie studente te bespreek. Jy is ook altyd welkom om ons kantoor te besoek om die prosesse wat betrokke is by ondersteuning aan studente met gestremdhede eerstehands te ervaar, of om jou vrae beantwoord te kry. Jy kan hieronder nuttige wenke kry wanneer jy studente met spesifieke gestremdhede moet onderrig:

Onderrig aan studente met gesiggestremdhede

Gesiggestremdhede verskil baie. Persone word as wetlik blind beskou wanneer hulle gesigskerpte 20/200 of minder is in die beste oog met gebruik van korrektiewe lense. Die meeste wetlik blinde persone het ’n mate van sig. Ander wat gedeeltelike sig het, kan met die gebruik van aangepaste toerusting op residuele visie staatmaak. Totaal blinde persone kan visuele geheue hê, met die sterkte daarvan afhangend van die ouderdom waarop sig verloor is.

Wat ook al die graad van die inkorting, daar kan van gesiggestremde studente verwag word om ten volle by klaskameraktiwiteite soos besprekings en groepwerk betrokke te wees. Om aantekeninge af te neem, gebruik sommige draagbare of gerekenariseerde braillers. Hulle kan beperkings ervaar in laboratoriumklasse, uitstappies en internskappe, maar met beplanning en aangepaste toerusting kan hulle probleme grootliks verminder word.

Wenke

Voor of vroeg in die semester:

  • Verskaf leeslyste of sillabusse om tyd toe te laat sodat reëlings getref kan word, soos die maak van opnames of oorsit van tekste in braille.
  • Help die student, in samewerking met die koördineerder by die Kantoor vir die Regte van Mense met Gestremdhede (KRMG), om lesers, mense wat aantekeninge afneem, of tutors te kry, of paar die studente af met ’n klasmaat of laboratoriumassistent wat kan sien.
  • Reserveer sitplekke voor in die klas vir studente met swak sig. Indien ’n gidshond gebruik word, sal dit goed-gedissiplineerd wees en min ruimte inneem.

Gedurende die semester:

  • Dra ook in woorde oor wat jy op die bord skryf of enige ander visuele leidrade of grafiese materiaal wat jy moontlik gebruik.
  • Laat toe dat lesings opgeneem word en/of verskaf afdrukke van lesingnotas waar toepaslik.
  • Dupliseer materiaal wat in die klas uitgedeel word op ’n grootdruk-kopieerder, indien moontlik.
  • Toetse moet baie duidelik wees en donker gedruk word.
  • Wees aanpasbaar ten opsigte van sperdatums vir werkopdragte.
  • Beplan uitstappies en spesiale projekte soos internskappe vroegtydig en stel buite-toesighouers in kennis oor watter aanpassings nodig kan wees.
  • Indien ’n bepaalde taak onmoontlik is vir die student, oorweeg ’n alternatiewe werkopdrag.

Eksamens en evaluerings:

Studente behoort nie as gevolg van ’n gesiggestremdheid uitgesluit te word van eksamens, of minder inhoud te bemeester, of ’n laer vlak van skolastiese vaardighede te toon nie. Alternatiewe metodes van assessering van hulle kennis van hulle kursus kan nodig wees. Op grond  van hulle ervaring in vorige leersituasies kan die studente self en die DRU-koördineerder voorstelle maak oor die manier waarop toetsing en evaluering plaasvind. Die gerieflikste instrumente is alternatiewe eksaminerings (mondeling, grootdruk, braille, of opnames), die verlenging van tyd vir eksamens, en die gebruik van sulke hulpmiddels soos drukvergroters, gespesialiseerde rekenaarprogramme of bandopnemers.

Onderrig van studente met gehoorgestremdhede

Die aanvangsouderdom bepaal gewoonlik erns van hierdie gestremdheid. Diegene wat doof gebore is, of op ’n vroeë ouderdom doof geraak het, veral in die stadium voor spraakontwikkeling, toon die ernstigste gestremdhede. Aangesien hulle nie taal kan hoor nie, strek hulle gestremdhede gewoonlik verder as blote gehoor en sluit praat- en leesvaardighede in.

Vir die gehoorgestremde wat kan praat, is stembeheer dikwels aangetas en hulle verwring toon, volume en/of artikulasie. Vir talle wat gebaretaal gebruik, is Engels ’n ”tweede” taal en dus kan al hulle kommunikasie foutief wees. Hierdie sekondêre effekte van gehoorgestremdheid moet as fisiese gestremdhede eerder as geestes- of intellektuele swakhede verstaan word.

Gehoorgestremde mense gebruik verskeie toestelle om hulle te help om hulle gehoorkapasiteit te verbeter of dit te vervang. Talle gebruik liplees, maar op sigself is die begrip van gesproke Engels/Afrikaans slegs 30 tot 40 persent, selfs al is die vaardigheid hoogs ontwikkel. Diegene met ’n toereikende mate van residuele gehoor word gehelp deur die klankversterking wat gehoorapparate verskaf, wat openbare klankstelsels en sender-ontvanger-stelsels met ’n aanknipmikrofoon vir die spreker insluit. Die belangrikste vorm van kommunikasie vir die persone wat heeltemal doof is, is gebaretaal. Studente wat op gebaretaal staatmaak, het ’n gebaretaaltolk nodig wat óf die woorde met hulle monde vorm, dit in gebaretaal vertaal, of albei doen.

Wanneer ’n dosent ’n gehoorgestremde student moet hanteer, moet hulle eers die aard en omvang van die gestremdheid vasstel, asook die tipe hulp wat die student gewoonlik gebruik. Dit is moeilik as die gestremdheid “verborge” is en die student dit nie graag erken nie. Aanduidings van hierdie gestremdheid kan wees as die student hulle ore spits om te hoor, self hard praat en verwronge spraak gebruik, en dikwels nie op spraak reageer nie. Wanneer die gestremdheid behoorlik geïdentifiseer en bespreek is, kan klaskamerstrategieë en aanpassings die student doeltreffend help om suksesvol in die klaskamer te funksioneer.

Hier is ’n paar algemene praktiese reëls wat die dosent kan help om die gehoorgestremde te onderrig:

  • Kyk direk na die student, hou jou gesig sigbaar wanneer jy praat, en praat op ’n natuurlike manier en stemtoon. As ’n tolk teenwoordig is, praat direk met die student en nie met die tolk nie.
  • Aan die begin van 'n klaskameraanbieding en na pouses, kry die student se aandag voordat jy begin praat.
  • Herhaal die vrae en opmerkings van ander mense in die vertrek.
  • Gebruik so ver as wat dit prakties moontlik is die bord om gesproke aanbiedings te beklemtoon.
  • Help die student om iemand te kry om aantekeninge af te neem, en indien nodig ’n maat in die laboratorium.
  • Wanneer dit moontlik is, gee aan die student opsommings van klas- en lesingaantekeninge, lyste van nuwe tegniese terme en gedrukte transkripsies van oudio- en oudiovisuele materiaal.
  • Reël vir afsonderlike besigtigingstyd vir oudiovisuele materiaal.
  • Moenie aarsel om skriftelik met die student te kommunikeer wanneer belangrike inligting oorgedra moet word nie.
  • Indien die gehoorgestremdheid taalprobleme behels, laat toe vir ekstra tyd om die opdragte en eksamenvraestelle te lees.

Onderrig van studente met leergestremdhede

’n Leergestremdheid is enige van ’n diverse groep toestande wat noemenswaardige probleme in persepsie veroorsaak, en wat ouditief, visueel en/of ruimtelik kan wees. Daar word veronderstel dat dit ’n neurologiese oorsaak het en dek versteurings wat funksies soos lees (disleksie), skryf (disgrafie) en wiskundige berekenings (diskalkulie) inperk. Dit kan weer grootliks binne elke kategorie wissel ten opsigte van die patrone wat getoon word.

’n Leergestremdheid kan voorkom by mense wat gemiddelde tot superieure intelligensie openbaar, en toereikende sensoriese en motoriese stelsels het, soos gesien kan word aan die buitengewone prestasies wat talle leergestremde individue behaal. Hierdie toestand is eers onlangs geïdentifiseer en word steeds dikwels nie gediagnoseer nie. Dit is waarom dit dikwels deur die leergestremdes self, asook deur ander, as ’n intellektuele gebrek gesien word – wat dit beslis nie is nie.

Trouens, die merkbare verskil tussen intellektuele kapasiteit en prestasie is’n kernmerk van ’n leergestremdheid. Die diagnose van ’n leergestremdheid sal met ’n battery van aanleg- en akademiese prestasietoetse vasgestel kan word.

Hierdie dokumentasie is nodig nie net om die behoefte aan spesiale dienste vas te stel nie, maar ook om te bepaal watter soort spesiale dienste verlang word. Studente wat vermoedelik ’n leergestremdheid het wat nie voorheen geïdentifiseer is nie, of nie behoorlik geïdentifiseer is nie, moet na die DRU-koördineerder verwys word.

Hoewel ’n leergestremdheid nie genees kan word nie, kan dit omseil word deur onderrigintervensie en strategieë wat daarvoor voorsiening maak. Oor die algemeen bevorder ’n verskeidenheid maniere van onderrig leer vir studente met leergestremdhede deur hulle in staat te stel om materiaal te bemeester wat moontlik in ’n ander vorm nie toeganklik is nie.

Wanneer ’n leergestremde student hanteer word, is dit belangrik om die aard van die gestremdheid te identifiseer sodat die soort strategie wat dit kan ondervang, vasgestel kan word. Deur te kyk na ’n student se eie ervaring kan waardevolle wenke verkry word om te sien watter soort aanpassing werk. Wanneer die leergestremde student en die aard van die leergestremdheid bepaal is, kan hierdie strategieë dalk help:

  • Ouditiewe verwerking: Sommige studente kan probleme ervaar om inligting wat mondeling oorgedra word, te integreer en dit verhinder hulle om die volgorde en organisasie van ’n lesing te volg.
  • Verskaf aan studente aan die begin van die semester ’n kursusleerplan.
  • Skets klasaanbiedings en skryf nuwe terme en sleutelpunte op die bord neer.
  • Herhaal onderafdelings van elke aanbieding en som dit op en hersien die geheel. Die leergestremde student kan moontlik baie stadig en hortend lees en materiaal moeilik verstaan, veral wanneer groot hoeveelhede materiaal hanteer moet word. Vir so ’n student sal begrip en spoed aansienlik toeneem met die byvoeging van ouditiewe insette.
  • Wanneer abstrakte konsepte hanteer word, parafraseer dit in spesifieke terme, en illustreer dit met konkrete voorbeelde, persoonlike ervarings, praktiese modelle, en visuele strukture soos kaarte en grafieke.
  • Stel die vereiste boekelyste voor die eerste dag van klasse beskikbaar sodat studente betyds hulle leeswerk kan begin, of toetse op band kan plaas.
  • Gee aan studente ’n oorsig oor hoofstukke of studiegidse om hulle te help om sleutelpunte in hulle leeswerk te kry.
  • Lees materiaal wat op die bord geskryf is of wat in uitdeelstukke of transparante is hardop voor. Studente wat probleme met geheue of volgordebepaling ervaar, kan sukkel om ingewikkelde aanwysings te volg.
  • Hou mondelinge opdragte bondig en versterk dit met kort leidrade.
  • Herhaal of omskryf ingewikkelde aanwysings.

Afneem van notas

Sommige studente met leergestremdhede het alternatiewe maniere nodig om aantekeninge af te neem, aangesien hulle nie doeltreffend kan skryf of assimileer, of die materiaal onthou en organiseer terwyl hulle na ’n lesing luister nie.

  • Laat persone wat aantekeninge afneem toe om saam met die student klas toe te kom.
  • Laat studente toe om opnames te maak of gee jou aantekeninge vir hulle oor materiaal wat nie in handboeke of ander beskikbare bronne voorkom nie.
  • Help die student, indien nodig, deur te reël dat klasmaats se aantekeninge geleen kan word.

Deelname

Dit sal help om die student se vermoë om aan klasaktiwiteite deel te neem, te bepaal. Hoewel talle studente met leergestremdhede hulle baie goed kan uitdruk, vind sommige dit baie moeilik om te praat, te reageer of voor groepe te lees.

Gespesialiseerde beperkings

Sommige studente met leergestremdhede kan swak koördinasie hê, of dit moeilik vind om afstand te skat of tussen links en regs te onderskei. Sulke hulpmiddels soos demonstrasies van die student se regs-links-verwysingsraamwerk en die gebruik van kleurkodes of bykomende simbole kan die perseptuele probleem oorkom.

Die wetenskaplaboratorium

Vir leergestremde studente kan dit veral oorweldigend wees. Nuwe toerusting, eksakte metings en multistap-prosedures kan juis daardie vaardighede vereis wat vir hulle die moeilikste is.

  • ’n Individuele oriëntering tot die laboratorium en die toerusting kan die student se angs verminder.
  • Die verskaffing van etikette aan toerusting, gereedskap en materiaal kan nuttig wees.
  • Die student se gebruik van wenkkaarte of byskrifte wat die stappe van 'n prosedure aandui, kan help om die volgorde daarvan te bemeester.
  • Gespesialiseerde aangepaste toerusting kan met eksakte metings help.

Gedrag

As gevolg van perseptuele gebreke, kan sommige studente met leergestremdhede sosiale leidrade moeilik verstaan en ontoepaslik reageer, hulle kan ’n gebrek aan sosiale vaardighede hê, of hulle kan dit moeilik vind om hulle aandag by iets te bepaal. Indien so ’n probleem veroorsaak dat daar onderbrekings of ander steurnisse in die klas voorkom, is dit raadsaam om die saak privaat met die student of die DRU-koördineerder te bespreek.

Evaluering

  • Laat toe dat studente in 'n aparte, stil vertrek met 'n opsiener eksamen skryf; anders kan hulle toegelaat word om in die DRU se eksamenlokaal hulle eksamens af te lê. Studente met leergestremdhede is veral gevoelig vir dinge wat hulle aandag aflei.
  • Toetse moet baie duidelik wees en donker gedruk word.
  • Gee ekstra tyd in eksamens en vir skriftelike werkopdragte wanneer daar baie lees- en skryfvaardighede vereis word.
  • Vermy oorgekompliseerde taal in eksamenvrae, en gebruik voldoende spasiëring dat die vrae op die vraestel duidelik geskei is. Vir ’n student met perseptuele gebreke wat dit moeilik vind om antwoorde oor te dra, vermy die gebruik van antwoordblaaie, veral gerekenariseerde vorms.
  • Probeer om nie materiaal wat pas aangebied is by toetse in te sluit nie, aangesien meer tyd gewoonlik nodig is om nuwe kennis te verwerk.
  • Laat die gebruik van ’n woordeboek, rekenaarspeltoetsers en ’n proefleser, of by wiskunde en wetenskap, ’n sakrekenaar toe. In wiskunde kan die student dalk die konsep verstaan, maar foute maak deur getalle verkeerd te rangskik of rekenkundige feite te verwar.
  • Waar nodig, laat toe dat studente ’n leser, skrywer, woordverwerker, bandopnemer of rekenaar gebruik.
  • Oorweeg alternatiewe toetsontwerpe. Sommige leergestremde studente kan opstelformate moeilik vind, en ’n perseptueel-gestremde student sal altyd probleme hê om toetse met mekaar te vergelyk.
  • Oorweeg alternatiewe of aanvullende werkopdragte wat vir evaluering gebruik kan word, soos onderhoude op band, aanbiedings met skyfies, fotografiese opstelle of handgemaakte modelle.

Onderrig van studente met mobiliteits- en handfunksiebeperkings

’n Wye reeks toestande kan beweeglikheid en/of handfunksie beperk. Onder die algemeenste permanente versteurings is versteurings van die spier-skelet-stelsel soos gedeeltelike en totale verlamming, amputasies of ernstige beserings, artritis; aktiewe sekelselsiekte, spierdistrofie, meervoudige sklerose en serebrale gestremdheid.

Asemhaling- en hartsiektes wat uitmergelend is, kan ook beweeglikheid beïnvloed. Enige van hierdie toestande kan ook die krag, spoed, uithouvermoë, koördinasie en handvaardigheid wat nodig is vir behoorlike handfunksie inkort.

Hoewel die graad van gestremdheid wissel, kan studente probleme hê om na en van die klas te beweeg, in die klas te presteer en opdragte en toetse buite die klas te hanteer.

Om na en vanaf klasse te beweeg:

Fisiese toegang tot klaskamers is ’n groot probleem vir studente met beweeglikheidsbeperkings. Dié wat rolstoele, stutte, krukke of kieries gebruik of prosteses het, of wat maklik moeg word, vind dit moeilik om rond te beweeg, veral binne die tydsbeperkings wat deur klasroosters bepaal word. Dit kan onvermydelik wees dat hulle soms laat is. Stadigheid of afwesigheid kan veroorsaak word deur vervoerprobleme, gure weer, of hysbakke of rolstoele wat onklaar raak. Om by die klas weg te kom kan soortgelyke probleme veroorsaak, veral in noodgevalle.

  • Oorweeg die toeganklikheidsfaktor vroeg in die semester en bespreek dit met die student en indien nodig met die DRU-koördineerder.
  • Wees daarop voorbereid dat jy dalk van klaskamer of gebou moet verander as geen ander oplossing moontlik is nie.
  • Maak jouself vertroud met die Universiteit se noodontruimingsplan en maak seker dat die student met beperkte beweeglikheid dit kan hanteer.

In die klas

Sommige kursusse en klaskamers het hindernisse ten opsigte van die volle deelname van studente met beperkte beweeglikheid. Sitplekke vir sulke studente moet só gereël word dat hulle ten volle by die klas kan inskakel. Moenie hulle naby ’n deur, in ’n kantpaadjie of agter in die klas plaas nie. Selfs skynbare onoorkomelike versperrings soos vaste sitplekke kan oorkom word deur te reël dat ’n stoel losgemaak en verwyder word om vir ’n rolstoel plek te maak. Laboratoriumstasies wat vir rolstoelgebruikers te hoog is om by te kom of by uit te kom, of met onvoldoende ruimte onder die toonbank, kan aangepas word of kan met beweegbare stasies vervang word. Andersins kan iemand nodig wees wat die instruksies van die student in die laboratorium kan uitvoer.

Studente wie se handfunksie beperk is, kan soortgelyke probleme ervaar in die laboratorium sowel as in die klaskamer met die skryf van skriftelike opdragte in die klas of die afneem van skriftelike toetse. Vir so ’n student:

  • Laat toe dat hulle ’n bandopnemer gebruik of iemand wat aantekeninge afneem.
  • Gee vir die student ’n laboratoriummaat of -assistent.
  • Indien nodig, laat toe dat skriftelike opdragte wat in die klas gedoen moet word, met behulp van ’n skrywer buite die klas voltooi word.
  • Stel mondelinge of opgeneemde toetse op, of laat ekstra tyd toe.

Opdragte buite die klas

Vir studente wie se beweging of handfunksie beperk is, kan die gebruik van die biblioteek vir leeswerk of navorsing probleme veroorsaak. Reëlings vir hulp deur die biblioteekpersoneel kan nodig wees as toegang tot kaartkatalogusse, boekrakke en ander toerusting verkry moet word, of wanneer die bladsye van publikasies hanteer moet word. Aangesien die voltooiing van vereiste werk dus vertraag kan word, kan dit nodig wees dat spertye verleng word of onvoltooide punte gegee word.

Afkampus-opdragte en veldwerk kan soortgelyke probleme veroorsaak as toegang tot hulpbronne. Dosente moet sulke moontlikhede vroegtydig deurgee aan studente wat van spesiale vervoer, die verlenging van spertye en alternatiewe opdragte afhanklik is.

Onderrig aan studente met spraakbeperkings

Spraakgebreke wissel van probleme met artikulasie of stemsterkte tot totale stemloosheid. Dit sluit in probleme met projeksie, soos met chroniese heesheid en esofagus-spraak; probleme met vlotheid, soos hakkel of stottering; en die nominale afasie wat die artikulasie van bepaalde woorde of terme wysig.

Van hierdie beperkings kan deur meganiese toestelle soos elektroniese spraakmasjiene of gerekenariseerde stemsintetiseerders bestuur word. Ander kan met spraakterapie behandel word. Al hierdie beperkings kan vererger word deur angs wat met mondelinge kommunikasie in ’n groep gepaardgaan.

Geduld is dus die doeltreffendste strategie wanneer studente met spraakgebreke hanteer word:

  • Gee aan hulle die geleentheid, maar moenie hulle verplig om in die klas te praat nie.
  • Laat hulle genoeg tyd toe om hulleself uit te druk, sonder om die gapings in hulle spraak aan te vul. Moenie huiwer om ’n student te vra om ’n stelling te herhaal nie.
  • Spreek hulle op ’n natuurlike manier aan. Moenie die algemene fout maak om te veronderstel dat hulle nie kan hoor of verstaan nie.
  • Oorweeg kursuswysigings, soos een-tot-een-aanbiedings en die gebruik van ’n rekenaar met ’n stemsintetiseerder.

Onderrig van studente wat toevalle kry

Studente met epilepsie en ander toevalle is uiters huiwerig om hulle toestand bekend te maak omdat hulle vrees dat hulle misverstaan of gestigmatiseer sal word. Wanopvattings oor hierdie versteurings as dat dit ’n vorm van geestessiekte, aansteeklik of onbehandelbaar is, het ontstaan omdat die werklike oorsake daarvan steeds onseker is. Daar is bewyse dat oorerflike faktore betrokke kan wees en dat breinbeserings en tumors wat op enige ouderdom kan voorkom, toevalle kan veroorsaak. Wat wel bekend is, is dat toevalle as gevolg van wanbalanse in die elektriese aktiwiteit van die brein ontstaan.

Daar is drie onderskeibare tipes toevalle:

  1. Petit mal beteken “klein” toeval en word deur oogknippery of ’n gestaar gekenmerk. Dit begin skielik met ’n skielike afname van bewustheid en kan moontlik slegs ’n paar sekondes duur. Wat die persoon ook al doen, word vir ’n oomblik onderbreek, maar sodra die toeval verby is, gaan die persoon weer aan. Die toeval kan dikwels ongemerk verbygaan, deur die individu asook deur ander, omdat dit so kort is.
  2. Psigomotoriese toevalle wissel van matig tot ernstig en kan die volgende insluit:’n starende blik, denkverwarring, ongekoördineerde en lukrake beweging, onsamehangende spraak en gedragsuitbarstings gevolg deur onmiddellike herstel. Grand mal-toevalle kan matig of ernstig wees en kan gekenmerk word deur veralgemeende sametrekkings van spiere, trekkings en ledemate wat ruk.’n Paar minute van sulke bewegings kan deur bewusteloosheid, slaap, of uiterste moegheid gevolg word.

Studente met toevalle gebruik dikwels voorkomende medikasie wat lomerigheid en tydelike geheueprobleme kan veroorsaak. Sulke medikasie maak dit onwaarskynlik dat ’n toeval in die klas sal voorkom.

In geval van ’n grand-mal toeval, volg hierdie prosedure:

  • Bly kalm. Hoewel die manifestasies intens kan wees, is dit gewoonlik nie pynlik vir die individu nie.
  • Verwyder voorwerpe naby wat die student wat die toeval ervaar, kan beseer.
  • Help om die persoon op die vloer neer te lê en plaas ’n kussing onder die kop.
  • Draai die kop na die een kant sodat asemhaling nie verhinder word nie.
  • Maak stywe klere los.
  • Moenie iets tussen die tande inforseer nie.
  • Moenie probeer om die liggaamsbeweging te beperk nie.
  • Roep die noodbeampte of enige ander toepaslike persoon of vra iemand anders om dit te doen.
  • Ná so ’n toeval moet die skole die bekommernisse van die klas dadelik hanteer om te verhoed dat negatiewe houdings teenoor die betrokke student ontstaan.

Onderrig van studente met chroniese siekte of pyn

Sommige studente het mediese toestande wat nie maklik waargeneem kan word nie, maar ernstige probleme in ’n opvoedkundige omgewing kan veroorsaak. Studente kan ingeperk word deur siektes soos asma, artritis, diabetes, kardiopulmonêre siekte, kanker, chroniesevermoeidheid- en immuundisfunksiesindroom en toevalle.

Hulle kan ook ingeperk word deur mediese toestande wat intense en onophoudelike pyn veroorsaak, byvoorbeeld herhalende stresbeserings, na-operatiewe en rugprobleme.

Simptome van al hierdie toestande kan onvoorspelbaar wees en fluktueer. Studente met chroniese siektes of pyn kan beperkte energie hê en probleme ervaar om vir lang tye te loop, staan of sit. Hulle pyn, of die newe-effekte van medikasie, kan veroorsaak dat hulle duiselig word of verward voel, wat dit vir hulle moeilik maak om in die klas aandag te gee, opdragte buite die klas te voltooi, navorsing in die biblioteek te doen, en tydens eksamens gefokus te bly.

Die volgende voorstelle kan jou help om doeltreffend te werk met studente wat beperkende mediese toestande ervaar:

  • Mediese toestande, insluitende die newe-effekte van medikasie, kan moegheid en verlies aan uithouvermoë veroorsaak, wat aandag en konsentrasie negatief kan beïnvloed. Om hierdie redes kan studente met mediese toestande moontlik ekstra tyd in die eksamen nodig hê.
  • Studente met sommige mediese toestande kan duiselig en gedisoriënteerd word, en fisieke stamina kan ontbreek. Hulle kan dit dus moeilik vind om van een plek na die ander op die kampus te beweeg. Daarom kan ’n student dalk laat by ’n klas opdaag. Wees asseblief geduldig wanneer dit gebeur.
  • Dosente by kursusse wat van uitstappies of internskappe gebruik maak, moet saam met studente en die program vir studente met gestremdhede werk om seker te maak dat daar in die student se behoeftes voorsien word. Studente kan byvoorbeeld hulp nodig hê met vervoer, spesiale sitplekke, of gereelde rustye.
  • Sommige studente ervaar ’n terugkeer van ’n chroniese toestand wat bedrus en/of hospitalisering vereis. In die meeste gevalle kan studente die onvoltooide werk inhaal, maar hulle kan ekstra tyd nodig hê.

Onderrig van studente met aandaggebrek-/hiperaktiwiteitsindroom

Aandaggebrek-/hiperaktiwiteitsindroom (ADHD) word gekenmerk deur ’n volgehoue patroon van ernstige aandagtekort wat dikwels voorkom, hiperaktiwiteit, en/of impulsiwiteit. Mense met ADHD het talle probleme in ’n akademiese opset. Van hierdie probleme is soortgelyk aan die probleme van mense met leergestremdhede: stadige en ondoeltreffende leeswerk, stadige skryf van opstelle en gereelde foute by wiskundige berekeninge en die meganika van skryf. Ander probleme is kenmerkend van ADHD; studente met ADHD het dikwels ernstige probleme met tydsbestuur, die voltooiing van take, organisasie, en geheue.

Vir voorstelle oor hoe om doeltreffend te werk met studente wat ADHD het, kyk asseblief weer aan die afdeling oor leergestremdhede (hierbo), asook die volgende:

  • Studente met ADHD presteer oor die algemeen beter as hulle ’n leerplan het wat take goed verduidelik en spesifieke inleweringsdatums het. Namate die semester vorder, hou aan om die studente aan die spertye te herinner: Onthou dat die take Vrydag ingelewer moet word.
  • Waar moontlik, begin elke lesing met ’n opsomming van die materiaal wat gedek moet word of verskaf ’n skriftelike uiteensetting. Indien jy breë kantlyne en driedubbele spasiëring gebruik, kan studente direk op die uiteensetting aantekeninge maak: dit kan met organisasie help. Wanneer jy elke lesing afsluit, hersien die hoofpunte.
  • Studente met ADHD se gedagtes is geneig om tydens klastyd te dwaal, veral gedurende lang lesings. Hulle aandag word makliker behou wanneer die lesingmateriaal stimulerend is en die formaat wissel (byvoorbeeld lesings wat met aanbiedings en klasbesprekings afgewissel word). As die klas ’n paar uur lank duur, maak seker dat jy genoeg pouses tussenin toelaat.
  • Studente met ADHD se aandag word dikwels afgelei. Nooi hulle dus om voor in die klas te sit, so ver as moontlik van enigiets wat hulle aandag kan aflei (byvoorbeeld deure, vensters, en raserige verwarmers).
  • Probeer om nie opdragte mondeling te dikteer nie, aangesien studente met ADHD dit kan mis. Skryf opdragte altyd op die bord, of (selfs beter) deel dit in skriftelike vorm uit.
  • Verskaf toetslokale wat relatief steurnisvry is; en wanneer studente toetse skryf wat ekstra tyd nodig het, het DRU ’n geskikte toets-/eksamenlokaal met goeie toesighouding.
  • Help die student om vir groot projekte of lang vraestelle die taak in onderafdelings in te deel. Stel spertye vir elke afdeling op; daar kan byvoorbeeld spertye wees vir die voorstel van ’n onderwerp, vir ’n navorsingsplan, vir die voltooiing van die navorsing, vir ’n voorafskrywe om die opstel se hipotese vas te stel, vir die skryf van ’n plan of uiteensetting, vir ’n eerste konsep, en vir die finale geredigeerde manuskrip.

Onderrig aan studente met sielkundige gestremdhede

Sommige studente het sielkundige gestremdhede soos depressie, bipolêre versteuring, of ernstige angs. Sielkundige gestremdhede kompliseer talle lewensareas, insluitende onderrig.

Elke geval verskil, maar daar is sommige dinge wat algemeen voorkom by die akademiese ervarings van studente met sielkundige gestremdhede. Die studente rapporteer probleme om te fokus, te konsentreer, en werk betyds te voltooi. Lees, skryf en wiskunde kan ekstra inspanning en tyd verg.

Die vermoë om doeltreffend te funksioneer, kan van dag tot dag wissel; wanneer studente stres ervaar, kan die simptome vermeerder. Medikasie help met die simptome van sielkundige gestremdheid, maar medikasie se newe-effekte (byvoorbeeld lomerigheid of hoofpyn) kan tot die student se akademiese probleme bydra.

Ons stel voor dat jy weer na ons voorstelle (hierbo) oor leergestremdhede en aandaggebrek-/hiperaktiwiteitsindroom kyk; ’n aantal van hierdie voorstelle sal ook vir studente met sielkundige gestremdhede geskik wees. Hieronder is ’n paar voorstelle spesifiek om aan die behoeftes van studente met sielkundige gestremdhede aandag te gee:

  • Sielkundige gestremdhede word nie goed verstaan en in ons samelewing aanvaar nie, en talle studente met sielkundige gestremdhede het goeie rede om die reaksie van ander mense te vrees. Doen asseblief alles moontlik om studente gemaklik te laat voel as hulle vir jou van hulle sielkundige gestremdhede vertel. Moenie studente onder druk plaas om hulle gestremhede aan jou te verduidelik as hulle nie wil nie. Jy kan met die toestemming van die student vir DRU vra om aan jou verdere inligting te verskaf.
  • Jy moet verstaan dat daar gestremdheidverwante redes sal wees waarom studente soms klasse kan misloop, of selfs in die middel van ’n lesing die klas moet verlaat. Die studente sal verantwoordelik wees vir die inhoud van enige lesings wat hulle misgeloop het, maar hulle sal dit waardeer as jy hulle kan help om die gapings te oorbrug.