Nuus - Pukki Talentfees eindig op hoë noot

Pukki Talentfees eindig op hoë noot

Die 35ste Pukki Talentfees is op ’n hoogtepunt afgesluit met Gala-aandvertoning en wenneraankondiging op Vrydag 11 Mei. Die jaarlikse kompetisie, aangebied deur NWU-Potch Kunste en KSR: Kunsteraad, was ’n tentoonstelling van die ongelooflike standaard van uitvoerende & skeppende kunstalent onder die studente van die NWU Potchefstroomkampus.

Die vertoning het bestaan uit 34 items waar studente en ook personeel hul talente gewys het, met die Suid-Afrikaanse sangeres, Nadiné, as seremoniemeester. Die skouspelagtige vertoning het  bestaan uit kontemporêre dans, sang, drama en instrumentele items, asook die wenners van die klassieke afdeling wat op Woensdag 9 Mei plaasgevind het. Die kunstenaars is begelei deur die Artéma Orkes en agtergrondsangers, met Pieter de Bruin as die musikale regisseur. Nie net was die optredes van uiters hoë kwaliteit nie, maar die aand was sonder twyfel ook ’n feestelike ervaring vir die gehoor.

Een van die kategoriewenners vir die kontemporêre afdeling was Jeanine Malan vir haar drama-opvoering I ate the divorce papers, geskryf deur Gabriel Davis, sy is ook die wenner van die ATKV Vakansie-oord prys. Mpumelelo Mongewabone se Afrika-jazz solo, Yakhal’inkomo deur Winston Mankuku Ngozi, het die eerste plek in die vokale solo-kategorie gewen, en Black Note het die eerste prys vir die groepskategorie behaal, asook die De Jonge Akker Koffiehuis prys. Kitaarspeler Dian Maritz het die kontemporêre instrumentele kategorie met sy ongelooflike opvoering van Ocean deur John Butler gewen, terwyl Ernest Else met die eerste prys in die kategorie vir prosa en poësie weggestap het. Die Juventis trofee – ʼn prys wat oorhandig word aan die student/e wie “studentiteit” die beste uitbeeld – is gedeel deur Mpumelelo Mongewabone en Daniel Kgotlhany.

Adriaan Jacobs het die eerste prys in die personeelkategorie ontvang vir sy vermaaklike buikspraak-item (vergesel deur sy aangename handpop, Charlie). Rochelle Langford het die tweede plek in hierdie kategorie verower het met haar solo, Son of a preacher man, deur Dusty Springfield.

Die algehele wenner van die skeppende kuns kategorie, wat visuele kuns, prosa, poësie en eie komposisies ingesluit het, was die visuele kunstenaar Gretchen Crots. Segomotso Shupinyaneng was die wenner van die klassieke uitvoerende kategorie met die solo Glitter and be gay van Leonard Bernstein, en die kontemporêre uitvoerende kategorie se algehele wenner was DM de Kock wat op Supermarket Flowers deur Ed Sheeran gedans het. Dit is ook die eerste keer in 35 jaar dat ’n dansitem as die algehele wenner van die kontemporêre kategorie aangewys is.

 

Pukki Talentfees 2018 was beslis ’n onvergeetlike ervaring vir deelnemers sowel as die gehoor. Dit was ’n puik week met skitterende kwaliteit optredes deur studente en personeel van die kampus, en 2019 se kompetisie sal moet uithaal en wys om op dié jaar s’n te verbeter ‒ iets om na uit te sien vir volgende jaar.

 

Geskryf deur: Rouxné van der Westhuizen

Foto: Anne-Marie Wichmann