Nuus - NWU-Puk Koor Blink Uit by WKS

Tydens die Junie/Julie-reses, terwyl meeste studente ontspan het na ʼn opwindende eerste semester, het twee van die Noordwes Universiteit se ensemble- en koorgroepe naam gemaak by die Olimpiese spele van koorsang!

Die tiende internasionale Wêreld Koorspele 2018 Tswane is vanjaar vir die eerste op die Afrika Kontinent aangebied. Dié wêreld kompetisie het meer as 300 kore en sanggroepe vanuit 62 lande sien meeding vir die krone van koor- en ensemble-sang, met die NWU wat deur die NWU PUK-Koor en die Boulevard Harmoniste verteenwoordig was.

Die Koor het aan twee kategorieë in die kompetisie deelgeneem: Musica Sacra (gewyde musiek) met begeleiding en Gemengde Kore, waar die koor vir beide afdelings goue medaljes ontvang het. Die Boulevard Harmoniste, ’n sesstemmige a capella groep, het aan die kategorieë; Vokale Ensembles en Spirituele Musiek deelgeneem, waarvoor hulle onderskeidelik ’n goue en ’n silwer medalje ontvang het.

Hierdie gewilde tweejaarlikse kompetisie, aangebied deur die Duitse maatskappy Interkultur, het in Junie en Julie in Tshwane (Pretoria) plaasgevind. Tydens die 2014 Wêreld Koorspele in Riga (Latvia) het die koor ook ʼn goue medalje ontvang.

Kobus Venter, die dirigent van beide die NWU-Puk Koor en Boulevard Harmoniste, sê dit was vir hulle ’n voorreg om hulle musiek met die wêreld te kon deel. “Dit was die ervaring van ’n leeftyd wat die studente se lewens verryk het. Ons is baie tevrede met die uitslag en is trots om die NWU én Potchefstroom by die spele te kon verteenwoordig!”

Vir die studente was dit ook ’n ongelooflike ervaring. “Ek dink nie ons as koor het rêrig besef hoe groot dit is totdat ons daar gestaan het in die Sun Arena en Shosholoza gesing het saam met 8000 ander koorlede nie,” sê Hanru Visser, ’n lid van die NWU-Puk Koor. Volgens hom was dit ’n lewensveranderende belewenis gewees wat die koor nooit sal vergeet nie. “Daar is twee dinge wat ons as koor rêrig kan wegneem van hierdie hele belewenis af, en dit is dankbaarheid en trots.”

Volgens Jaco van der Walt (NWU Kunste: Potchefstroom) was dit ʼn verrykende ervaring vir elke student in die koor om skouers te skuur met koorlede van meer as 60 lande. “Om kore van China, Griekeland en Japan te kon sien was ’n belewenis. Musiek is waarlik ’n taal wat almal verstaan!”

 

Geskryf deur: Rouxné van der Westhuizen