Nuus - 'n Simfonie van stories

Musiek kan die mooiste stories vertel. Dit laat ons emosies ervaar waarvoor daar nie woorde nodig is nie. Dit kan ons ook op die grootste avonture neem, net daar in die rooi sitplekke van die ouditorium. Ons eie NWU-PUK Simfonie-orkes het die mooiste stories hierdie Saterdag in die Sanlam-Ouditorium vertel tydens hul Spectacular Symphonic Stories-konsert, moontlik gemaak deur NWU Potch Kunste.

Die orkes, onder leiding van André Oosthuizen, wat tans ook die dirigent van die NWU-Blaasorkes, die New Music Ensemble en die mede-dirigent van die Noordwes Jeugorkes is. Hy het in 2014 sy Meestersgraad in fluituitvoering aan die NWU voltooi. Eerste op die aand se program was Peter and the Wolf, ’n musikale simfonie vir kinders deur die Russiese komponis Sergei Prokofiev. Elke instrument was ’n ander ‘karakter’: die dwarsfluit het die voëltjie verteenwoordig, die bassoon die oupa, die Franse horings die wolf en die strykinstrumente die hoofkarakter, Peter. Die storie is vertel en prettig vertolk deur die akteur, De Klerk Oelofse (wie onlangs genomineer is vir ʼn ATKV Mediaveertjie as beste akteur vir sy vertolking van Lourens in Die Boekklub). Oelofse het telkemale die aandag gesteel met sy eie kreatiewe uitbeeldings van elke karakter.

Die Pirates of the Caribbean-suite was iets wat die gehoor én die musikante baie geniet het. Hierdie moderne gunsteling is deur Klaus Badelt vir die eerste film van die reeks gekomponeer, en die orkes het die aksie, energie en dinamiek van dié seerower storie met groot sukses uitgebeeld.

Dan is daar die storie van Peter Pan, wat elke lid van die gehoor se inner-kind sal onthou. James Newton Howard se musiek vir die 2003-film bevat elke stukkie fantasie, betowering en kinderlike vreugde van Neverland. Hierdie klankbaan is ’n besonderse mooi een, vir oud en jonk, en ook ’n musikale meesterstuk. Die gehoor het die pragtige geskrewe storie deur J.M. Barrie ook herleef, voorgelees deur ’n bekende naam en gesig in die klassieke musiekgemeenskap, Dirkie Nell.

Die lewe bestaan uit stories, en musiek kan ons dit op ’n manier laat beleef wat onmoontlik is om te beskryf. Tydens die NWU-PUK Simfonie-orkes se storie-simfonieë is die gehoor hieraan herinner, en hulle het elke oomblik aan die musikante se lippe gehang.

Geskryf deur: Rouxné van der Westhuizen

Foto: Tian du Preez