Nuus - Die Beste van Potchpourri

Soos hulle sê in die bekende opera Zauberflӧte: “Ei, wie fein!” (Oh how fine). ’n Akkurate beskrywing van die “Best of Potchpourri”-konsert, die opening van die NWU Skool vir Musiek & Konservatorium se konsertreeks vir die jaar. Die lewendige geleentheid is professioneel en plesierig aangebied deur studente en dosente van die NWU Skool vir Musiek & Konservatorium.

 

Op die Dinsdagaand van 20 Februarie 2018 was die Konservatorium gevul met ’n gehoor vol afwagting. Die eerste item was ’n goeie inleiding tot die res van die repertoire: “Fine” deur Adam Gwon, ’n prettige’ broadway’-styl sangduet uit die verhoogproduksie “Ordinary Days”. Die res van die aand het bestaan uit keur van klassieke musiek (met ’n paar verdraaiings en interpretasies) en die humoristiese inslag in baie van die items het die gehoor eindeloos vermaak. Soos die klavier-duet waarin “O my liewe Marthatjie” in die style van verskillende komponiste gespeel is. Of die bekende “Magic Flute: Queen of the Night Aria” uit Mozart se Zauberflӧte, gesing en gedramatiseer deur ’n komieklike Florence Foster Jenkins-nabootser, Jana Mathee.

 

Die Beste van Potchpourri was die eerste konsert by die Konservatorium vir die jaar, en beslis ’n goeie aanduiding van wat nog vir ons wag.

Volgende op die jaarprogram is ’n optrede deur die Sweedse koor van die Stockholm Music Akademie. Hulle tree op 27 Februarie in die konservatorium op.

Kaartjies beskikbaar by die NWU Skool vir Musiek & Konservatorium, asook www.artema.co.za/buy-tickets.

Geskryf deur: Rouxné van der Westhuizen